‘n Lelike straatnaam?

ImageVerlede maand is Alexander Solsjenitsin begrawe en reeds het president Dmitri Medwedef besluit om hom te vereer vir sy buitengewone bydrae deur 'n straat in Moskou na hom te vernoem.

Die burgemeester van Moskou, Juri Luzkof, het aangekondig dat Bolsjaia Kommunisticheskaia Ulitsa, oftewel Groot Kommunistiesestraat, een van die mooiste en stilste strate in Moskou na die gestorwene herdoop sal word. Die straat met sy pragtige pre-rewolusionêre woongeboue sal voortaan Ulitsa Solsjenitsina heet.

Izvestia, die dagblad na aan die Kremlin, berig egter dat die hoofstad nog vol name is waarvan Solsjenitsin nie sou gehou het nie, soos Lenin Prospekt of Sjosse Entusiastof waarvandaan dissidente na Siberië gestuur is.

Die naamsverandering het 'n hewige debat ontketen want een van die strate wat Solsjenitsinstraat sal kruis heet steeds Karl Marxstraat. Baie mense glo die hele stel kommunistiese name gaan uiteindelik verdwyn en die Kommuniste is ongelukkig oor die vooruitsig.

Vladimir Lakeief, leier van die Kommunistiese Party in die Doema, het die stadraad gevra om die wettigheid van die naamsverandering te ondersoek.

'n Inwoner wat vir kommentaar genader is, meen dat die stad nie die ou kommunistiese voorbeeld moet volg en alles moet hernoem nie, maar dat Solsjenitsinstraat darem mooier klink as Groot Kommunistiesestraat.

slot strategy thatДанильченео