Vyf mense is in hegtenis geneem en verskyn binnekort in die hof op aanklagte van openbare geweld ná Maandag se wydverspreide oproerigheid in en om Durban.
Ontevrede betogers het paaie versper, sakeondernemings geplunder en minstens 30 voertuie aan die brand gesteek, het RSG berig.
Volgens die polisiewoordvoerder, Thulani Zwane is een persoon tydens ‘n skietery gewond en ‘n saak van poging tot moord word ondersoek.
Die oproeriges is ontevrede oor die ANC se kandidaatlys vir die munisipale verkiesing wat onlangs bekendgemaak is.
Intussen duur die oproer in en om Durban voort. Die polisie is by Inandaweg noord van Durban ontplooi waar ‘n groep betogers sedert vroeg vanoggend byeen is.
Die polisiewoordvoerder sê die paaie is tans oop, maar die polisie monitor die situasie.
Noordkusweg, Umgeni en Springfieldweg, asook Queen Nandi-rylaan en die Sea Cow Lake-gebied is plofbaar.
Tydens die opmars tussen Parlock na die Connaught-brug is eiendom beskadig en gevandaliseer.
Die Durbanse Kamer van Handel en Nywerheid het ‘n beroep op sake-ondernemings gedoen om risikobestuurstrategieë in te stel om die uitwerking van voortslepende oproer te verminder.
Grootskaalse verkeersontwrigting het Maandag in verskeie gebiede noord van Durban voorgekom.
Die bestuurshoof van die Kamer, Dumile Cele sê in ‘n verklaring die ontwrigtings het tot gevolg gehad dat talle werknemers, insluitend mediese personeel, nie betyds by die werk kon opdaag nie, wat pasiënte regstreeks geraak het.
Belangrike verspreidingsentrums in die gebied is ook geraak.
Die ANC in die provinsie het vroeër die protesoptrede veroordeel.
Die ANC se provinsiale sekretaris, Super Zuma, sê dit maak nie sin dat mense openbare eiendom beskadig as hulle probleme met die ANC het nie.
Hy sê daar is behoorlike platforms om probleme te lug. Zuma sê misdadigers het die proses gekaap.
