Speurders het ‘n lyk gevind waarvan liggaamsdele afgesny is, nadat hulle ‘n man vasgetrek het wat ‘n sak met dié dele daarin wou verkoop.
‘n Mosambiekse man is intussen daarvan aangekla dat hy in besit van menslike liggaamsdele is.
Die swart man het Woensdag in die Malamulele-landdroshof verskyn.
Die saak teen Samson Majoko (35) is tot 31 Julie uitgestel vir verdere ondersoek, het brig. Hangwani Mulaudzi van die polisie in Limpopo gesê.
Die polisie het Majoko in Junie in hegtenis geneem ná ‘n wenk ontvang is oor ‘n man wat liggaamsdele wou verkoop.
“Die polisie het hul na die toneel gehaas en die verdagte in hegtenis geneem. Hy het in ‘n voertuig gesit en ‘n plastieksak by hom gehad waarin menslike geslagsdele en twee hande was,” het Mulaudzi gesê.
