Verlede week alleen het amper 10 000 Somaliërs uit Mogadisjoe gevlug. Die vlugtelinge steek die grens oor na Kenia, Djiboeti, Ethiopië en Jemen. Die VN verwag dat die getal vlugtelinge hierdie jaar nog meer gaan styg. Moslem-ekstremiste veg tans teen regeringstroepe, wat deur Ethiopië gesteun word. Geweld in die Somaliese hoofstad het ironies genoeg dramaties toegeneem ná die aanvang van die nasionale versoeningskonferensie op 19 Julie.
Sowat 1 000 verteenwoordigers van verskillende faksies in Somalië vergader tans in Mogadisjoe om vrede in die land te probeer bewerkstellig. Die Moslem-rebelle is veral gekant teen die rol wat Ethiopië speel om die Somaliese regering te steun en verwys in hierdie verband na Ethiopië as “die Israel in Afrika.“ Op dié wyse poog hulle om plaaslike steun asook ondersteuning in die Midde-Ooste te werf. Volgens die Moslem-rebelle se jeugbeweging, moet elkeen wat die huidige versoeningskonferensie bywoon, besef dat “hy tot die dood veroordeel word.“ Sowat twaalf mortierbomme is dan ook al sedert 19 Julie op die konferensielokaal afgevuur.
