Hoof van mediese skool by UV bedank

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het bevestig dat prof. Alan St. Clair Gibson, vroeër vandeesweek as hoof van die UV se skool vir geneeskunde bedank het.

Gibson se bedanking kom kort na die UV se visekanselier en rektor, Jonathan Jansen, en die UV se viserektor, eksterne betrekkinge, Choice Makheta, wat hulle bedankings ook onlangs ingedien het.

Gibson se bedanking werp ‘n verdere skadu op die mediese skool, wat deur baie betrokkenes as ‘n sinkende skip beskou word, omdat meer as die helfte van die senior spesialis posisies nie gevul is nie.

UV-woordvoerder, Lacea Loader, het aan OFM-nuus gesê Gibson sal die UV vroeg aanstaande maand verlaat om by die Universiteit van Waikato in Nieu-Seeland as dekaan van die fakulteit gesondheid en menslike prestasiewetenskappe aan te sluit.

Gibson, wat die afgelope twee jaar die UV se mediese skool bestuur het, het die nuus van sy aanstelling in Nieu-Seeland op Twitter gedeel.

Dit is al egter verlede week op die Universiteit van Waikato se amptelike webwerf aangedui dat Gibson sedert Mei dié pos beklee.

Volgens Loader het Gibson ‘n beter aanbieding ontvang en dit aanvaar. Sy het gesê hy gaan ‘n bydrae lewer om ‘n nuwe fakulteit vir al die gesondheidswetenskap-dissiplines daar te vestig.