Afrika se grootste mediamaatskappy, Media24, het erken dat hulle die sirkulasiesyfers van 12 van hul 60 tydskrifte vervals het. Hein Brand, uitvoerende hoof, het Woensdag aan joernaliste gesê dat hy "daarvan sou gehou het om te sê dat dit foute was, maar dit was ongerymdhede… dis ‘n absolute aaklige toedrag van sake."
Die Ouditburo vir Sirkulasie het gelas dat vyf tydskrifte van Touchline Media, ‘n Media24-filiaal, en sewe vrouetydskrifte se verskyning verlede maand gestaak word. Drie senior bestuurders waaronder ook die uitvoerende hoof van Touchline, Marc Blachowitz, het intussen bedank maar word steeds ondersoek in verband met die vervalste sirkulasiesyfers.
Patricia Scholtemeyer, HUB van Media24 se tydskrifafdeling, meen dit was ‘n "bewustelike manipulasie van die syfers deur sekere indiwidue. Dit was defnitief nie deur die topbestuur goedgekeur nie." Die betrokke tydskrifte is Men’s Health, Sports Illustrated, Wisden Cricketer, Shape, Kick Off, True Love Babe, InStyle SA, True Love, Lééf, Fairlady, Sarie en True Love Bride.
In sekere gevalle is die sirkulasiesyfer met soveel as 50% vergroot. Die forensiese span wat die bedrog ondersoek het, het aanbeveel dat drie bestuurders van Touchline en ses werknemers van die vrouetydskrifafdeling ondersoek word. Volgens die hoofforensiesebeampte is daar reeds bekentenisse gedoen. "Dit het die vervalsing van dokumente wat aandui dat die titels van eienaar verwissel het, behels," het hy gesê.
Sodoende is vervalste fakture geskep om verkope aan te dui wat nooit plaasgevind het nie. Media24 het aangedui dat hulle adverteerders sal terugbetaal wat die maatskappy "miljoene" sal kos. Brand het egter gesê dat dit geen finansiële risiko vir die maatskappy inhou nie. Die Ouditburo vir Sirkulasie is tans besig om ‘n onafhanklike ondersoek van al Media24 se tydskrifte te doen en dit sal binne die volgende drie maande afgehandel wees.
люстру италияФільчаков прокурор