McGovern, wat ʼn 1972-presidensiële-nominant vir die Demokratiese Party was, sê hy het gisteraand vir oud-president Bill Clinton gebel om hom in te lig van sy besluit. Volgens hom bly hy steeds goeie vriende met die Clintons.
“Ek sal hulle altyd na aan my hart hou en hulle respekteer,” sê McGovern.
Dié aankondiging van McGovern kom aan die vooraand van Clinton se vertrek na Suid-Dakota om haar presidensiële-veldtog voort te sit. Die staat se benoemingsverkiesing vind op 3 Junie plaas met 15 afgevaardigdes wat deelneem.
McGovern sê verder dat hy nie spyt is dat hy vir Clinton ondersteun het nie, selfs na die Iowa-koukus was hy positief.
“Clinton se veldtog was manhaftig en sy sal steeds ʼn sterk stem wees in die toekoms, maar na alles blyk dit of Obama klaar gewen het. Dit is tyd om die Demokratiese Party te herenig,” verduidelik McGovern.
Hy sê ook dat dit steeds Clinton se besluit bly of sy gaan tou opgooi, maar hy maan dat dit beter sal wees vir almal in hul stryd om die Withuis te verower. Clinton sê sy het al 42 miljoen dollar van haar eie geld in die stryd gewerp om die presidensiële kandidaat te word.
McGovern is nie een van die super-afgevaardigdes wat gaan stem by die Nasionale Konvensie nie.
