McBride wys sy ware kleure

Image

Robert McBride

Lede van die SAPS het klagtes van intimidasie teen Ekurhuleni-metropolisiebeamptes ingedien na aanleiding van ’n insident wat Woensdag in Boksburg plaasgevind het. Superintendent Eugene Opperman van die SAPS het die nuus gister bekend gemaak.

Patrick Johnston, een van drie geskorste Ekurhuleni-metropolisiebeamptes, is Woensdag deur kollegas van die pad afgetrek omdat sy voertuig getinte ruite gehad het. Hy het Stanley Segathevan, ook ’n  geskorste metropolisieman, gebel en sy kollega het op die toneel aangekom om hom by te staan. ’n Rusie het ontstaan en polisiehulp is deur Johnston ontbied. McBride het ook op die toneel aangekom. Die twee geskorste beamptes is uiteindelik gearresteer op klagtes dat hulle ingemeng het met die uitvoering van hul kollegas se pligte en hulle sou verset het.

Toe die polisie op die toneel verskyn, was McBride woedend. Hy het die polisielede gevloek en hulle na bewering “bobbejane en stukke k.k” genoem. Hy het verder sy metrolede opdrag gegee om te skiet indien enige van die polisielede aan hulle wapens sou raak.

Die saak teen Johnston en Segathevan is gister deur die Boksburg-hof uitgegooi weens “’n gebrek aan bewyse.” Die twee beamptes wil egter vandag ’n interdik teen McBride bekom aangesien hulle vir hul lewens vrees, ná doodsdreigemente deur McBride.

Op 21 Desember verlede jaar was Robert McBride, hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, in ’n motorongeluk op die R51 naby Centurion betrokke. Hy was op pad terug van ’n jaareindfunksie.

Getuies op die toneel het aan koerante vertel dat McBride dronk was. Hy het hierdie bewering ten sterkste ontken. Dieselfde getuies het beweer dat hulle deur Ekurhuleni-metropolisiebeamptes aangerand is, in ’n poging om hulle te intimideer.

Stanley Segathevan, Patrick Johnstone en Ithumeleng Koko het McBride vinnig van die toneel verwyder sonder om korrekte prosedures te volg. Geen bloedtoetse is uitgevoer nie. Ná die insident het McBride en die drie beamptes egter ’n  uitval gehad. Die drie het later ’n verslag by die Nasionale Vervolgingsgesag ingedien wat skynbaar verdoemende getuienis oor die insident van 21 Desember bevat. Die Nasionale Vervolgingsgesag moet nog besluit of McBride vervolg behoort te word vir roekelose bestuur en wou nie die inhoud van die verslag bekend maak nie.

remezaлобановский александр досье