Sammani al-Wassila, minister van Buitelandse Sake van Soedan, het egter Suid-Afrikaanse druk afgewys. Mbeki se raadgewers het origens aangedui dat sy verblyf hoofsaaklik ’n besoek aan die suide van die land sal wees waar die Abuja-vredesooreenkoms in 2005 gesluit is.
AMIS-magte, gebore uit ’n voorstel van die EU, is sedert 2004 in Darfoer – in die weste van Soedan – en het intussen van 150 troepe na 7000 toegeneem in die hoop dat die konflik sal afneem.
Hulle ontoereikende en onbeholpe teenwoordigheid het egter daartoe gelei dat ’n bykomende VN-mag voorgestel is in September 2006, maar die Soedanese regering het dit van die hand gewys. Die AMIS-mandaat is nietemin deur die VN verleng en sal tot Junie 2007 strek, nadat die Veiligheidsraadresolusie 1706 vir bykomende vredestroepe nie geïmplementeer is nie.
Maandag, vóór Mbeki se besoek, was Soedan en Tsjad se weermagte in gevegte betrokke en op die grens tussen die twee lande is rebelle-aktiwiteit aan die oplaai.
Pretoria het aangedui dat "Suid-Afrika se prioriteit lê by die aanvaarding van die hele ooreenkoms tussen die VN en die AU om ’n hibride-mag in Darfoer te ontplooi.” Indien Kartoem China en Suid-Afrika se raad volg, sal die gesamentlike mag uit 20 000 troepe bestaan. Soos China, wil Suid-Afrika graag Soedan se weerstand teen só ’n teenwoordigheid peil.
Dit is alombekend dat China traag is om druk op Omar al-Bashir uit te oefen vanweë dié land se sterk ekonomiese bande met China.
Die jongste VN-voorstel behels die implementering van al drie fases. Tot dusver het Soedan slegs tot die eerste ingestem, maar afgevaardigdes van die AU is optimisties dat Soedan die tweede fase sal aanvaar. Dit sal die ontplooiing van etlike duisende VN-administrateurs behels en skenkings van nagenoeg 300 miljoen dollar.
Die derde fase sal dan die aankoms van die VN-vredesmag wees om die AU by te staan. Wat die Soedanese president betref, verteenwoordig dit egter ’n bedekte Westerse ingryping in Darfoer waar daar reeds 200 000 mense gesneuwel en 2 miljoen weggevlug het.
