Mbeki en verwagtinge vir m?re

Waarnemers is skepties of president Thabo Mbeki die moed aan die dag gaan lê om môre in sy toespraak tydens die parlementsopening daadwerklike planne teen misdaad aan te kondig.

Volgens statistiek was bykans 2.5 miljoen mense die afgelope drie jaar slagoffers van ernstige misdaad. ’n Onlangse studie het verder aangetoon dat meer as 90% Suid-Afrikaners waarskynlik nog slagoffers van misdaad gaan word.

Business Day het ’n rukkie gelede aangetoon dat misdaad oor die afgelope 12 jaar met 7% gestyg het. Inbrake het gedurende dieselfde tyd met ’n ongelooflike 89% toegeneem. Dit is egter ’n bekende feit dat alle voorvalle nie by die polisie aangemeld word nie, so die syfer is waarskynlik nog hoër.

Die Mail & Guardian se voorblad basuin hierdie week uit: “Thabo Mbeki’s new age of denial”. Soos vroeër die geval was met vigs, probeer Mbeki nou ook ander probleme onder die mat vee. Die wapenskandaal bestaan volgens hom nie, want die tenderproses was “heeltemal korrek.”  Die misdaad in die land is ’n  “persepsieprobleem.” Gedurende die kabinet se lekgotla in Januarie het hy sy ministers ingelig dat “reaksionêre magte” die misdaadprobleem gebruik om die ANC te ondermyn.

Die onlangse ENB-anti-misdaadveldtogdebakel, die moord op historikus David Rattray en kommer wat uitgespreek is deur openbare figure, het egter meer druk op Mbeki geplaas om sy volstruisbeleid oor misdaad te laat vaar.

Met amper 40% van die ekonomies aktiewe bevolking wat boonop tans sonder werk sit en die probleme ten opsigte van dienslewering, sal Mbeki ’n besonderse haas uit die hoed moet trek om die Suid-Afrikaanse publiek te beïndruk. In Desember word sy opvolger as partyleier – en waarskynlik ook as president – verkies. Hy het gevolglik min tyd oor om sy beeld te poets.

методы пломбирования корневых каналовФильчаков прокуратура харьков