Verskeie werknemers, onder andere ‘n senior amptenaar van die departement van korrektiewe dienste, is Donderdagoggend by die Mangaung- Korrektiewe Sentrum in Bloemfontein aangeval.
RSG berig die situasie by die tronk is steeds gespanne.
Die departement het gister die bestuur van die gevangenis oorgeneem nadat die maatskappy wat aangestel is om die tronk te bestuur, G4S, nie sy kontraktuele verpligtinge nagekom het nie.
Die departement se gewapende eenheid is na die gevangenis ontplooi om die situasie te stabiliseer. ‘n Werknemer van G4S wat anoniem wil bly, sê gevangenes is gewapen met skerp voorwerpe.
Dit is die jongste in ‘n rits voorvalle by die tronk. Verlede week is ‘n vroulike beampte ure lank as gyselaar aangehou. Sy is later ongedeerd vrygelaat.
