'n Kosbare stuk in 'n nasionale museum in Nederland blyk nou niks meer as 'n stuk versteende hout te wees nie. Dit was veronderstel om 'n maanklip te wees van die eerste maanlanding, volgens die kurators.
Die "maanklip" is aan 'n voormalige eerste minister Willem Drees gedurende 'n welwillendheidsbesoek van die drie Apollo-11 ruimtemanne geskenk kort ná hulle maanreis in 1969.
Ná Drees se afsterwe is die stuk klip aan die Amsterdamse museum geskenk waar dit tentoongestel is.
Op een stadium was dit vir die bedrag van bykans $500,000 verseker, maar toetse het bewys dat dit nie die ware Jakob is nie.
Die Rijksmuseum, beter bekend vir skilderye van kunstenaars soos Rembrandt, sê hulle gaan die rare voorwerp hou.
"Dis 'n goeie storie, met sekere vrae wat nog beantwoord moet word," sê Xandra van Gelder. Sy het die ondersoek wat die klip as 'n vervalsing uitgewys het, gelei.
"Ons kan daaroor lag."
Die "maanklip" is oorspronklik deur NASA per telefoon gewaarborg as synde die ware artikel.
Die Amerikaanse ruimteagentskap het "maanklippe" aan meer as 'n 100 lande uitgedeel na maanreise in die sewentigerjare.
Amerikaanse amptenare het gesê hulle het geen verklaring vir die Nederlandse ontdekking nie.
