‘n Ander plek

ImageDie oproep in die nag, die een wat sy al lankal vrees, dié kom toe om twee-uur op 'n helder sonskyndag in Auckland terwyl Mart vir Mia wag by die tennisbaan in die dorp. Die wye Hauraki Golf lê oop en blou, en seilbote van alle groottes flankeer met die ligte wind. 

Mia hardloop rats agter 'n bal aan, moker hom teen die net vas. Kap haar tennisraket in die lug uit frustrasie. Die kind sal moet leer om te verloor, dink Mart. Aard na haar pa.

Haar selfoon lui en Mart krap daarna in haar handsak, vat dit raak, druk dit teen haar oor. Hoor dan die suising op die lyn. Sy voel hoe haar hart tot in haar skoene sink.

"Dis Karel, Sus, ek het slegte nuus."

Ek weet, sê haar hart, maar haar mond is droog en sy kraak terug: "Karel, is dit…?"

Die lyn het 'n vertraging, hy praat oor haar woorde. "Sus, Pa is vanoggend dood, skielik. Hy was nie lekker nie, en toe het sy hart net ingegee. Die dokter sê hy het nie gely nie".

"Ai Karel."

"Ek sal seker môre die begrafnisreëlings tref, wou jou net solank sê."

"Ai Karel, is daar iemand by jou, 'n vriend, die dominee?"

"Gaan jy kom?" vra hy, veertienduisend kilometer vêr.

 

Sy het geweet dit gaan kom, maar het gehoop dit gebeur eers later. Eendag. Wanneer sy meer gereed is. Finansiëel. Emosioneel. Nie nóu nie, nie terwyl sy nog vars is hier aan die ander kant van die wêreld nie. Miskien kon sy Pa nog een keer sien weer, het Mart gehoop. Sien hoe hy oor die grond loop, die Noord-Kaapse wingerd tussen sy hande neem en die blare liefkoos, die suiker meet, die lug snuif, die grond voel.

Pa het daardie grond mak gemaak, die rooi sand van die Noord-Kaap en die klippe en die wind. Hy het hulle getem en hulle het geluister. Gebloei onder sy hande. Die grond, die plaas, die landerye en die huis, die watertenk op sy stellasie. Die wingerd waar daar nooit een was nie. Sy pekanneutbome wat hy geplant het, wetende dit sal eers hul volle bloeikrag bereik lank na hy nie meer daar is nie.

"Hoekom ploeg jy nie vore nie, Pa?", het Mart die dag gevra toe hy sy nuwe lande vir haar en Hannes gaan wys het.

"Ek begin 'n nuwe ding", het hy geantwoord en sy kon die trots in sy stem hoor. "Pekanneute. Ons wêreld is goed daarvoor, en die mark is belowend."

"Maar wat van koring, en mielies?"

"Koring se prys is treurig, die rand is te hoog, en mielies, nee, die Jood vat alles", se hy met 'n laggie. "Pekanneute kan ons self bemark."

Sy het hom vies aangekyk. "Ag Pa, moet nou nie so wees nie, jy weet mos ek stem DP."

"Ja'k", het Pa net gesê, maar sy misnoë was duidelik. Hy was 'n NP man, en sy was in haar rebelse fase. Gelyke regte en samewerking, dié soort van ding.

As sy hom wou kwaad maak in haar studentejare het sy Sondagmiddag aan tafel verklaar: "Ek sou ook met klippe gegooi het as ek swart was."

In die begin was Mart volksvreemd met haar stellings, dwars. Later sou sy party en die hele land inkoop op die nuwe Suid-Afrika. Min of meer toe hy sy pekanneute aangeplant het, het die land sy nuwe ekonomiese en staatkundige koers ingeslaan: Oop markte, staatsbeheer verdwyn. Ook die hulp aan boere. En in die proses word hulle distrik se koöperasie toe ingesluk deur die groot vis.

Pa het toe nog nie geweet hoe die Groot Westelike Koöperasie hulle later sou beduiwel nie. Sy eie mense. Weg met sy pensioen waarvoor hy sy lewe lank gewerk het, vervang dié met hulle opgeblaaste aandele wat hulle die lede belowe het toe hulle die plaaslike koöperasie oorneem. Duisende boere so deur die ore gewerk, onthou sy.

Ten minste het Pa darem nie ondergegaan nie, dink Mart. Hy kon aftree, soort van, maar die plaas kon nie verkoop nie. Daar was 'n grondeis, uit die bloute. Die grond wat uit die aarde gekap en bewerk is waar daar niks was nie. Wat tot lewe gekom het omdat hy water soontoe laat aanlê het. Hy en sy mede-boere en die staat en al die ander voor hom.

Skielik was die grond eintlik iemand anders s'n. Nabot se wingerd. Diegene wat destyds met bokke getrek het in die dorre landskap, van die een watergat na 'n ander, mielietjies hier en daar, dié wat nooit lank gebly het op een plek nie. Hulle het opeens 'n aanspraak gehad.

Mart voel skielik oud onder die gewig van haar erfenis.

Nie dat Pa ooit sou gee pad van die grond af nie, dit was sy lewe. Nie vir hom krepeer in 'n ouetehuis in 'n voorstad iewers nie. Met diefwering en 'n klein tuintjie waarin geen pekanneutboom sou aard nie. Nee, hy het maar aanhou boer so op sy manier. So rondom Karel se eie boerderydinge.

Stadigaan, vermoed sy, het sy lang skaduwee al yler en yler geword in die middagson.

 

Die geluid van Mia se tekkies op die teer soos sy aangestap kom van die tennisbaan, ruk Mart terug na die hede. Toe sy op haar horlosie kyk, en die son inkorrel, besef sy dit is drie-uur in die oggend in Suid-Afrika.

Dit was toe 'n oproep in die nag.

Die water van Auckland se wye baai is opeens te blink vir haar oog. Sy krap in haar handsak vir haar donkerbril.

          


                                                          ***

Die vrou by Flight Centre stoot Mart se voorlopige kaartjiebespreking na haar oor die toonbank. "This is the best we can do in an emergency, and at short notice," sê sy simpatiek. "Unfortunately the cheaper seats are taken up long in advance."

Mart neem haar bespreking  –  Auckland, Sydney, Johannesburg – en stap uit in die straat op pad na haar motor. Dit reën soos dit net in New Zealand kan reën as die wind waai – dit reën dwars, onder jou sambreel in. Maar eintlik beteken jou sambreel niks as die wind waai nie.

Hy waai jou hier, hy waai jou daar, hy waai jou hare deurmekaar.

Mart kan nie onthou waar die woorde van die liedjie vandaan kom nie.

"Mens reën nie regtig nat in Kiwiland nie", het sy destyds, kort na haar aankoms, huis toe geblog. "Jy beplan, dra 'n reënbaadjie, parkeer onder 'n afdak. So word jy nie nat nie. Die winter is soos in die Kaap, natterig en klam. Die groen seisoen, mens kan omtrent hoor hoe groei alles as dit so reën. En dis dan dat rooiwyn die lekkerste smaak."

Terwyl sy ingedagte huis toe ry, dink Mart aan haar aanvanklike pogings om haar familie uit Suid-Afrika weg te lok. Dit het nie goed uitgewerk nie. Haar een neef het haar eenkeer ingevlieg omdat sy net die slegte goed in Suid-Afrika voor hulle kop gooi. Kyk hoe sleg gaan dit, het sy probeer sê. Kom weg daar, gee pad, voor dit te laat en julle te oud is. Voor daar net hondekos op die winkelrakke is en julle rande niks werd nie. Voor julle kinders julle daar los en julle agter doringdraad sit en krepeer.

"Ek wil niks weer van jou hoor nie!", het hy haar in 'n epos uitgeskel. "Ons bly hier, kom wat wil, ons het nie nodig om te hoor hoe jy die plek afmaak nie."

Sy het dit verdien, weet sy nou. Sy was in haar perfekte wereld, en sy wou hulle red.

Hoe red mens in elk geval iemand as hy nie besef hy is in gevaar nie?

 

"Emigrasie is nie vir sissies nie, skat", het haar vriendin Elmarie gesê die dag toe sy haar die storie vertel oor middagete in 'n restaurant.

"Ek wil so graag hê hulle moet weet daar is uitkoms. Hoekom neem hulle ons so kwalik omdat ons gee pad het? Die Amerikaners en die Engelse en die Franse doen dit nie met hulle emigrante nie? "

Elmarie skink vir haar nog 'n glas wyn.

"Want die Afrikaners is in 'n loopgraaf, skat, hulle baklei 'n oorlog, dit gaan nou om oorlewing. En elkeen wat sy goed vat en loop, vir watter rede ook al, elkeen van hulle is 'n verraaier. En moet fokkof. Wegneuk uit die land en sprak geen sprook meer nie."

Elmarie was nog altyd taamlik reguit met haar opinies.

Sy kan maklik praat, sy het gee pad omdat sy nie met haar skoonmense kon klaarkom nie, dink Mart by haarself.

Elmarie beduie met haar hande, haar eksotiese Afrika armbande klingelend aan haar arm. "Ek weet nie hoekom tob jy daaroor nie, dis agter ons. My hart ween ook soms oor die plek, maar ek kan niks daaraan doen nie. Jy ook nie. En jy is veilig en jou gesin ook, en julle kinders het 'n toekoms, en geleenthede. Los dit, dis verby!"

Mart stoot haar kos rond, sy is nie meer honger nie. "Ek weet, ek moet dit ontgroei. Sal seker nog. Maar Suid-Afrika se storie bly vir my soos 'n riller wat ek nie kan neersit nie. Elke dag is daar 'n nuwe verwikkeling, en dit stuur af op 'n onvermydelike einde, maar ek is nie klaar met die storie voor die laaste hoofstuk nie geskryf is nie. Ek wil weet hoe dit eindig."

Elmarie snork. "Kom ons praat oor iets anders, die kuns, die weer, jou werk. En sê elke dag dankie dat jy hier is. Kry 'n glasie wyn, wyn vir die pyn, sê hulle mos!"

 

Mart glimlag by die herinnering. Sy het goeie vriendinne hier gemaak, weer 'n ondersteuningsnetwerk opgebou. Elmarie, vroëer van Johannesburg, Linda van die Kaap, Cynthia van Oos-London. Elkeen met sy eie bagasie en sy eie emigrasiestorie.

Almal van ons gaan soms maar deur 'n moeilike tyd, dink sy. En dan help ons mekaar maar uit oor 'n koppie koffie of 'n glas wyn.

Toe sy tuis kom, merk sy die reën het opgehou en die sonlig syfer deur op die heuwels oorkant haar huis. 'n Wye reënboog span van oos na wes.

Sy stoot die deur van haar huis oop, trotseer die groetende honde, en stap op met die trappe terwyl sy dink hoe om Hannes te benader.

 

                                      


                          ***

 

"Ek wil nie hê jy moet gaan nie!" Hannes is driftig. Hy staan by die strykplank besig met sy werkklere vir môre. Hy beduie met die strykyster.

Dis 'n ongeskrewe reël in hulle huis – elkeen stryk sy eie klere. Gewoonlik is hulle 'n aflosspan in die kombuis, een kook en een was. Hannes is lief vir kook, hy leef hom uit in die kombuis. Mart daarenteen, beskou kosmaak as iets wat gedoen moet word, maar vind nie juis plesier daarin nie.

"Ek voel ook nie daarna nie, Hannes", antwoord sy hom. "Ek kry koue rillings as ek net dink aan die bosse sleutels, en die nagte waarin elke geluid iemand by jou venster kan wees. Maar ek moet gaan, vir oulaas, gaan klaarmaak met my Pa en Karel en die plaas. En Afrika, skat ek."

"Hoeveel keer wil jy nog gaan klaarmaak? Ek het klaargemaak met daardie land toe ek die dag daar weg is. Ons het ook nie geld nie, en dis 'n duur trip."

"Ek weet. Ons sal plan maak", paai Mart. "Wil jy nie maar saamkom nie?"

"Nee, ek sal die eerste swartman op Jan Smuts bliksem." Hannes druk die strykyster teen die strykplank asof hy dit wil vermorsel, uitdoof.

"O.R. Tambo", help Mart hom reg, floutjies. Sy kyk hoe hy nate in sy broek instryk. Sy weet hy praat net. Die frustrasie en die angs waarmee hulle terugdink aan Afrika is nogal iets wat hulle altwee onverhoeds getref het hier. The agony and the ecstacy, dink sy sinies.

Mens beleef Afrika met 'n passie – in ons geval is dit woede. Kom mens ooit daaroor?, wonder Mart.

Sy staan op om te gaan kos maak, roep vir Mia om tafel te dek.

 

Hannes sê altyd hulle het nie die huis gekry nie, die huis het hulle gekry. Eendag, kort na hulle aankoms en in 'n huurhuis nog, het hulle op die ingewing van die oomblik gaan skouhuise kyk om die mark te leer ken. Die algemene raad van ander expats was om te wag en dinge goed deur te kyk voor jy koop.

Maar toe hulle instap, het sy en Hannes geweet dis die regte plek – privaat, met groot vertrekke en vensters wat die bos se talle skakerings van groen binnetoe bring. En die prys was binne hulle bereik.

Die houthuis teen die skuinste van 'n Aucklandse heuwel het vir die gesin 'n holte vir die voet geword, 'n plek waar hulle kon tuis kom, weer. 'n Nuwe basis vir hulle nuwe wêreld.

Dit was nie maklik nie. Die kinders het 'n paar maande geneem om aan te pas, en hulle vriende bitterlik gemis, tot hulle nuwe maats gemaak en koers gekry het. Hannes het gesukkel om weer sy loopbaan op dreef te kry.

Maar, dink Mart, eintlik was die oorgang ook nie so moeilik soos wat sy verwag het nie. En hulle het 'n vêr pad gekom. Van Pretoria se ruwigheid en boswereld na Auckland met sy sagte groen heuwels en die golwende kuslyn, die eilande in die baai drywende juwele in 'n blouer see.

Drie jaar gelede het sy nie hier gewoon nie, onthou sy met verwondering. Sy was van geen vaste adres, soos hulle sê.

Hannes en die kinders en haar huis was in Suid-Afrika.

Sy moes ‘n werk kry, sodat sy ‘n werkpermit kon kry, sodat sy verblyfreg kon bekom. En Hannes en die kinders het vir maande naelbyt vasgebyt en opgepak, letterlik en figuurlik soms, en uiteindelik op die vliegtuig geklim na ‘n onbekende bestemming in ‘n nuwe land en met nuwe gewoontes en maniere.

 

Hulle het alles opgegee wat hulle in Pretoria gehad het – ‘n huis met ‘n tuin vol kwikstertjies en vinke en 'n hadida af en toe, met ‘n apiesdoringboom in die hoek, en al die bekende gaatjies en plekke. ‘n Huis waarin sy snags in die donker badkamer toe kon gaan, of na ‘n klaende kind se kamer, sonder om die lig aan te sit, omdat sy al die hoeke en draaie so goed geken het. ‘n Huis met wit diefwering en borriegeel mure, en ‘n hek in die gang wat hulle gedweë snags gesluit het ná die inbraak terwyl hulle geslaap het, en ‘n lieflike sonstoep en ‘n warm kombuis en ‘n ou houttafel wat hulle moes verkoop omdat hulle gedink het hulle sal nooit weer plek vir hom hê nie, waar hulle saans hulle etes as gesin saam geëet het.

Die huis waar al haar kinders hul eerste treë geneem het. Die voorstedelike klinkersteenhuis met die hoë mure en ‘n 24-uur reaksiemag waar hulle sulke goeie tye met vriende en familie om die swembad beleef het.

Sy wonder of die nuwe inwoners ook lief is vir die tuin en die voëls en die grasperk en die bome. En of hulle dit waardeer, en saans buite op die gras sit en kyk vir die sterre.

                                         


                                 ***

Op die ou end gaan Mart tog.

Van die vlug onthou sy min, dit was holderstebolder reëings by die huis en die werk, met Hannes wat haar effens nors, en tog ook bekommerd, lughawe toe neem, die lang vlug, oorstaan op Sydney, en die effens aangeklamde passasiers wat nie wil rustig raak op hierdie vlug saam waartydens die son nooit ondergaan nie.

Dit het haar laat dink aan die speletjie wat sy en die kinders aan die begin met Google Earth op die rekenaar gespeel het.

"Hier is ons huis in Auckland uit die lug gesien", het sy beduie. "En hier, as jy klik op die simbooltjie, is die web-adres vir Oupa se huis". En dan kyk hulle almal met verwondering toe hoe die aarde wegval en die Auckland huis 'n stippeltjie word, en hoe die aarde kantel van oos na wes, oor die groot en wye oseaan, en Afrika voor hulle inskuif, en groter en groter word, met die bruin aarde wat vinnig nader kom.  Eers deinserig, maar dan as die beeld verhelder, kan hulle mooi sien, daar, dààr is Oupa se plaas. 'n Stippeltjie bruin-groen aarde in die heelal.

Mart glimlag by die gedagte. Dis 'n speletjie wat hulle lankal nie meer speel nie, die kinders het belangstelling verloor.

 

Van slaap was daar op die vlug nie sprake nie, en nou, waar sy en Karel op pad is plaas toe, is haar kop ietwat suf.

Die landskap is oorbekend, maar onverwags vreemd – groen en geel, bruin en rooi, en stowwerig. Die groot wit motor se bande suis op die teerpad, en dorpe flits een vir een verby. Eers deur die buitewyke van Johannesburg met sy vinnige verkeer langs die uitgespreide web van paaie waarin die stad hom al stewiger toespin, en toe op die lang, reguit pad na Potchefstroom met sy baie taxis en vragmotors, dan Klerksdorp, Wolmaranstad, Bloemhof, Christiana …

Plek plek lyk die pad sleg, Karel moet hard werk aan die stuur om die slaggate te vermy. Oral rondom die dorpe is plakkerskampe waarvan die omvang haar verstom – deels netjiese klein huisies met elektrisiteit en draadheinings, deels bloot sinkhuisies met snotneuskinders in die stof.

"Waar kom al hierdie mense vandaan?", wonder Mart hardop.

Karel snork so effe verontwaardig. "Geen mens weet nie, hulle is skielik net hier – baie van die noorde, die grens lê mos wawyd oop, en die ander seker maar die uitgebreide familie wat altyd op plase gebly het, maar wat die boere nou nie langer op hulle grond wil hê nie. Mens kan die boere nie juis kwalik neem nie, as hulle eers daar bly, het hulle nou aanspraak op die grond."

Mart kan haar verkyk aan haar broer, die nuwe lyne langs sy gesig, die maerte van sy lyf, die mens wat hy in drie jaar geword het, wat sy nie heeltemal herken nie.

 

Toe hy haar omhels op die lughawe, was dit asof hy haar nabyheid ineens meer nodig gehad het as sy vir hom. Lyfhonger, dink sy vertederend. Mens kan sien hy het nie 'n vrou in sy lewe nie. En sy naaste familie sit doer ver anderkant die water.

"Hallo Ouboet." Haar hart was opeens baie seer, en hy het haar na die lughawe restaurant geneem om tot verhaal te kom, vir hulle koffie en 'n broodjie bestel.  

Mart het gesnak na haar asem toe sy die pryse sien. "Dis amper so duur soos in Nieu-Seeland!"

Sy kon gou die foto's van die kinders wys en die jongste nuus vertel, en hy watter reëlings hy reeds vir die begrafnis getref het. Toe moes hulle ry, want die son sit laag, en Karel sê hy wil nie in die donker ry nie.

 

Hulle stop op een dorp om petrol in te gooi, en sy merk die klein gomsnuiwertjies dadelik op. Hulle skarrel soos rotte uiteen as 'n groep swart vrouens skellend by hulle verbystap, net om vinnig te hergroepeer, op soek na 'n kans om te gryp wat hul skerp oë raaksien.

"Koeldrank?" Karel hou die blikkie na haar uit, en sy vat dit dankbaar. Sy hande is bruingebrand en eelterig, en sy vingernaels vuilerig. Plaashande. 

Terwyl sy wag dat hy klaar betaal, staan sy buite, haar bene lam van die lang sit, eers die vliegtuig en toe die kar. Maar hulle moet wikkel, die begrafnis is oor twee dae, en daar is nog baie reëlings om te tref, sê Karel.

Die straat is vuilerig, die parkie by die munisipale geboue stowwerig en vol papiere, merk sy op.

Mart voel gestroop van emosie. Sy is hiér, vir haar pa se begrafnis, in die land waar sy grootgeword het en so goed ken, en sy voel soos 'n skuit wat dobber op die see, sonder anker. Sy vrees die paar dae wat voorlê op die plaas met al die hartseer en verlange omdat niks weer dieselfde sal wees noudat Pa Willem nie meer daar is nie.  

Maar dit sal ook agter die rug kom, besef Mart dan. Die lewe stap aan, dood en verdriet ten spyt, en die oorlewendes daarmee saam. Mens moet nog steeds jou koers uitkerf, jy kan nie te lank stilstaan by die graf nie, jy moet vort.

Niemand weet dit seker beter as die inwoners van hierdie land waar moord en dood en haat gedy soos kakiebos nie, dink sy opeens.

'n Motor toet in die straat vir 'n ou swartman wat oor die pad skuifel met gehawende skoene. Jaag dan weg met skreeuende bande asof die bestuurder nog nie klaar geskel is nie.

Die paar witmense wat sy opmerk in die straat is óf op pad iewers heen, soos sy en Karel, óf haastig om weg te kom uit die dorp ná hul besigheid daar. Mens sien nie eintlik wit jongmense nie, en sy wonder vaagweg waar almal heen is. 'n Paar motors staan voor een of ander watergat. Miskien is dit waar almal kuier op 'n Vrydagaand, skat sy.

Slegs blankes, was dit vroëer. Nou is dit geen blankes nie.

Die koeldrank is louwarm en sy drink die soetigheid effens langtand.

Karel kom sê hy gaan gou 'n draai loop, maar sy sien nie kans vir die gehawende plekkie nie. Sy sal maar knyp.

Bokant haar is die hemelruim is 'n oranje koepel, 'n paar perdestert waaierwolke gryswit teen die laaste strale van die son. Mart voel die windjie, koud en skraal, soos Eugene Marais sou sê. Sy vou haar arms om haar.

Sy is terug in Suid-Afrika, weet sy, en sy voel dis 'n ander plek as toe sy laas hier was.

Toe sy laas hier was, besef Mart, het Pa nog gelewe. Nou is dit net Karel wat hier oorbly vir wie sy regtig omgee.

                                                                 


     ***

"Daardie verdomde oorlog."

Sy en Karel sit onder die doringboom voor die plaashuis. Hy het 'n groot vuur gemaak in 'n kring bakstene, en hulle het hul stoele nader getrek om die hersfkoue uit te hou.

Vir Mart is die nuwe heining wat die werf omring nog vreemd. Karel se twee waghonde lê in die lig van die vuur, hul koppe op hul pote. Die een se ore beweeg ligweg as hy iets anderkant die ligkring hoor. Hy tel sy kop op en kyk in die donkerte in. Sy hou die hond gespanne dop, ontspan eers weer as hy rustig raak.

 

Dit was 'n lang dag. Die begrafnis was soos al die begrafnisse van haar jeug – ouer mense in swart en wit, 'n paar jong familielede wat onseker rondstaan, en van die plaaswerkers. Niemand wat sy regtig goed geken het nie behalwe 'n handvol familielede en ou bekendes uit die gemeenskap van haar kinderjare. Die dominee, betreklik jonk nog, het gelees uit 'n bekende teks. Sy het probeer konsentreer, maar dit was asof haar verstand stilgestaan het. Haar swart skoene stowwerig in die rooi grond, die bruin kis glimmend onder die Noord-Kaapse son.

Die dominee wat 'n handvol sand in sy hand neem en dit stadig oor die kis laat uitsyfer uit sy hand. "Stof tot stof…", hoor sy sy woorde, en sy ruik die klam grondreuk van die graf. Die grond van haar kinderjare, waar haar wortels lê, weet Mart in haar kop. En dink dan aan die koel, groen heuwels van Auckland, waar die stof anders lyk en ruik as hierdie warm aarde wat onder haar voete klop.

Die stof van Afrika, van groei en vernuwing, maar ook die Afrika van bloed en rook en vlieë en karkasse wat vermink in die son …

Dis of iets van haar Afrika herinneringe saam met haar pa wegsak in die graf. Mart voel hoe die emosie haar oorweldig, en sy sonder voorbehoud en met ontsetting begin weën, Karel se arm styf om haar lyf, haar gesig sopnat en lelik teen sy borskas.

Na die begrafnis was daar die baie mense wat wou kom handskud, of gesels. Haar pa het lank in die gemeenskap gewoon, en was by baie sake betrokke. Van die plaaswerkers, wat sy onthou van lank gelede, het haar herken en kom groet. Karel het die afgelope tyd vir die meeste van hulle huise op die dorp laat bou, en ry hulle nou soggens en saans aan. Slegs een of twee woon nog op die plaas.

"Dis veiliger so, dan het jy nie 'n aanloop nie", het hy bloot gesê toe sy hom vra.

 

Uiteindelik, toe die laaste kennisse gegroet het, het 'n gelatenheid oor haar en Karel toegesak.

Dis toe dat hulle begin praat het oor die bosoorlog, toe sy sien sy oorlogswond knou hom aan die einde van die besige dag.

"Ons moes veg, Mart, jy weet ons het nie 'n keuse gehad nie."

Hy staan kreupel op, gooi nog hout op. Sy kyk na sy been wat nog steeds die skrapnel dra van 'n mortieraanval destyds toe hulle op die Namibiese grens moes veg vir volk en vaderland. Fokken vaderland, soos Hannes altyd sê.

Daardie wond, en die weke daarna in die hospitaal en Karel se onvermoë om daaroor te praat, het uiteindelik haar Ma se dood veroorsaak, glo sy steeds. Meer as die hepatitis B wat sy in die plaaslike hospitaal opgedoen het, later.

Haar bitterheid spoel oor in haar woorde, haar gal swarter as die nag daar buite.

"Sê wie – die bliksemse politici? Het hulle regtig omgegee hoeveel 18-jarige seuns hulle soontoe gestuur het om die grense te "bewaak", terwyl hulle eie bloedjies beskerm is teen die moontlikheid van 'n skrapie? En toe verkoop hulle nog steeds die land onder ons uit."

"Jy weet dit kon nie anders nie." Karel se stem dra ver oor die werf. Hy kon nog altyd mooi sing en kitaar speel, maar doen dit nie meer vandat hy en Rina geskei is nie.  Kamma omdat hulle mekaar ontgroei het, maar almal weet dit was omdat hulle nie kon kinders hê nie. Niks om hulle aan mekaar te lak nie.

En Rina wou nie langer boervrou wees nie, dit was nie meer 'n lewe nie.

"Mens sit alles in, die staat help nie meer nie", het sy soms getier, voordat sy haar goed gevat en geloop het. "En jy het daardie hele kapitale uitleg – trekkers, skuur, saad, grondbewerking, spuit vir peste en plae, water wat moet aangelê word. En dan kom die wind en die weer en verinneweer jou wins. So boer ons net agteruit", het sy driftig beduie.

"En die swartes, hulle verstaan dit nie, hulle dink ons lewe lekker, verstaan nie dat ons eintlik verdrink in die skuld nie. Nee, hulle sien die huis en die grond en die kar, en dink, magtig, ek wil ook so lewe."

"En dan wag hulle, wag hulle vir jou om dood te gaan, of in te gee, of vir die staat om die grond te kry. En deesdae intimideer hulle mens, vergiftig die honde, steel jou skape in die nag. So palm hulle dit bietjie vir bietjie in."

Rina het uiteindelik stad toe getrek, en daar in 'n ou woonstelletjie gaan bly, onderwys gegee, en dikwels vir Karel gebel om uit te help as die Departement weer 'n fout maak met haar salaris. Of vergeet om te betaal.

Karel wou nie die boerdery opgee nie. Lief soos hy vir Rina was. Maar hy het ook nooit weer na 'n ander vrou gekyk nie.

 

Boerdery is ook nie meer wat dit was nie, dink Mart. Rina was toe al die tyd reg. Arbeid het duur geword, en onbetroubaar. En plaasaanvalle en intimidasie het toegeneem.

Dis dié dat die plaas nou omhein is met slot en grendel. En Karel se honde loop snags buite, met net die foksie wat in die huis slaap as 'n finale alarm.

Karel steek 'n sigaret op, gooi vir hom 'n dop en hervat sy storie: "Ons het alles probeer, tuislande, apartheid, verkeerd soos dit geloop het op die ou end, die oorlog op die grens, en toé, toe ons gedink het die groot kommunistiese gevaar is nou verby, toe probeer ons samewerking. Wat maar ook nie gewerk het nie."

Mart tel 'n ou dropper op, krap daarmee in die kole terwyl sy vorentoe leun op haar stoel.

"Maar het hulle ons ooit die waarheid vertel, Karel? Dit was 'n rookskerm, die totale aanslag ding. Ons mog nie die waarheid hoor nie, nie oor Steve Biko nie, nie oor Ruth First nie. Daar was die 90 dae sonder verhoor in aanhouding, die sogenaamde gesamentlike operasiesentrum wat inligting beheer het, die townships wat gebrand het met smeulende bande en jong melkbaarde wat op vroumense en kinders moes skiet. Dit was 'n gemors."

"Presies wat die Amerikaners nou ook doen met hulle oorlog in Irak – inligtingsbeheer, en terreur in die woonbuurte. Dis hoe oorlog is, Sus. Sekere goed gebeur maar op sekere maniere, nie altyd ten goede nie, maar ons het nie juis 'n keuse gehad nie, destyds. Die res van die kolonialiste noord van hier kon padgee na Brittanje, of suidwaarts trek hierheen, maar ons hier aan die suidpunt van die kontinent moes maar vasskop en veg. Ten minste het dit vir ons 'n paar jaar gekoop,  totdat die politieke klimaat verbeter het en nasionale eenheid bereik kon werk. Of wat ook al."

"Maar Karel, nou sien jy tog dit werk ook nie. Ons en die swartes kan nie saambestaan op hierdie kontinent nie, nie met ons Europese waardes en lewensuitkyk nie. Afrika sluk jou in of spoeg jou uit."

"Hy het vir jou uitgespoeg, skat ek."

"Maar jy, jy bly hier. Om ingesluk te word?"

"Waarheen sal ek anders gaan, Mart? Dis my plek dié, ek het niks om die wêreld aan te bied nie. Wat ek het, ploeg ek maar hier in."

Jy het goeie ondervinding, Karel, al boer jy deesdae. Jy kan enige plek in die wereld werk kry. Hoekom bly jy hier? Waar jy nooit weet wat môre bring nie. In Afrika kan mens nie vyf jaar, nie 'n jààr in die toekoms sien nie. Dis nie vir ons nie. Ons voorouers het op die verkeerde kontinent afgeklim, hulle moes verbygeneuk het. Australië toe, Nieu-Seeland toe. Dan sit mens nie nou met hierdie verdomde Afrika‑albatros om jou nek nie!" 

Karel steek 'n sigaret op.

"Ek weet nie, Mart. Ek kan nie weg nie. Ek het hier wortel geskiet, en ek kan nie verplant nie. Die lug is nêrens anders so blou nie, skat ek. Die veld so oop, die wild wild genoeg nie. Waar kry jy oker en blou soos hier? Die kranse van Clarens, die branders by Kleinbrak, die droë hitte van die Bosveld?

"Dis 'n illusie, Karel, 'n illusie. Daar sal net 'n woestyn oorbly van die plek as die … ek het myself belowe ek sal nooit daardie woord sê nie… as die kaffers met hom klaar is nie. Afrika soek nie wit kinders nie. Hy soek nie my en jou nie. Daar is baie mooi plekke, besonderse plekke in die wêreld. Mens hoef nie hier te bly nie, te wag vir die panga, die nag van die lang messe, die finale verkragting nie."

Karel rook sy sigaret 'n kooltjie. "Ek en jy het seker nog nooit so gepraat nie. Dis seker goed dat mens die goed uitpraat. En ek hoor wat jy sê. Maar ek is van hier. Stof en rook en rooi grond, en al. Ek verstaan hoe die plek werk, skat ek. Ek het nie lus om weer van voor af te leer hoe 'n ander plek se hartklop werk nie. My enigste liefde. Nie lus vir 'n tweede huwelik nie." Hy grynslag in die lig van die vuur.

"Ek hoor jou", sê Mart met 'n laggie. Sy kalmeer so effens. "Ek moet sê, ek kla nie oor my nuwe lover nie. Hy is goed vir my. Oop ruimtes, geen diefwering, geen vrees in die nag nie. Ek kan asemhaal. Stap op die strand. Met Hannes en die kinders die kano vat en op die rivier gaan ry. Braaivleis maak in die buitelug. Uitgaan in die aand. Lééf. Niemand het hulle mes in vir my nie. Niemand haat my omdat ek wit is nie."

Karel bly 'n ruk stil. Mart bly karring met die stok in die vuur, kyk hoe die vonke spat teen die swart nag.

Sy begin dink hy het belangstelling in die gesprek verloor, dink aan iets anders om te bepraat, toe Karel sê, "Mart, jy weet, ek wil vir jou sê, wat Pa ook vir jou sou sê, ek gun jou dat jy kon wegkom. Dis reg, en moenie dat iemand vir jou anders sê nie. Jy sien die skrif aan die muur, jy sien Afrika vat sy pad en slaan sy koers in, soos hy al soveel kere gemaak het. Kenia, Tanzanië, Zambië, Mosambiek, Zimbabwe. Die wêreld hier word al meer so, die damwal het gebreek met die afbreek van apartheid."

Karel vat weer 'n teug van sy sigaret, praat dan verder.

"Maar dít was ook nie reg nie, apartheid, die miskenning van menseregte, die misbruik van die staat.", sê hy. "Dit is nie goed nie, geen samelewing kan so in die donker leef nie. Donkerwerk is konkelwerk. Die wêreld het ons ingehaal. Afsonderlikheid het ons by die Britte geleer. Hulle, nà die Hollanders, het dit hier wetlik kom instel. Maar toe word dit ons albatros, soos jy sê."

"The white tribe of Africa", mymer Mart. "Maar Afrika wil ons nie hê nie."

"Net so ja, skat ek, net so. Maar ek is nou hier, ek sal hier klaarmaak."

Hy klink net soos Pa, dink Mart skielik. Sy trek haar baadjie stywer om haar, en onthou wat sy vir Elmarie gesê het – die laaste hoofstuk is nog nie geskryf nie.

                                                              


     ***

Johannesburg lughawe is soos 'n hospitaal, klinies en koud. Mense stap oral, sommige drentelend in bondels, ander doelgerig op pad.

"Ek moet by Terminaal 5 wees", sê Mart. In haar hart dink sy, terminaal – siekte, afskeid, dood. Eindpunt, vertrekpunt, bestemming.

Dis swaar om van Karel afskeid te neem.

"Pas jouself op, seblief Ouboet." Sy hou hom 'n oomblik styf vas, haar oë vol trane.

Sal ek hom ooit weer sien?, wonder sy toe sy wegstap na die doeane deurgang.

Toe sy omdraai om te waai, is hy weg.

Die doeane-amptenaar is vriendelik, maar vaagweg onbelangstellend in Mart se lot.

Besef jy nie, wil Mart vir haar sê, dat ek die land verlaat, die hele kaboedel, om heel waarskynlik nie weer terug te kom nie, behalwe as ‘n gas in ander mense se huise?

Sy sê egter niks, neem net haar paspoort by die vrou en stap weg. In haar hand dra sy 'n sagte kameelperd-speelding vir haar jongste.

Mart wag saam met ‘n magdom ander mense vir die grondwaardin om die teken te gee dat hulle kan naderstaan, gereed om in die maag van die groot silwer Airbus met sy geweldige vlerkspan te verdwyn, om ver anderkant die wye blou Indiese Oseaan uitgespoeg te word soos ‘n Jona op droë grond.

Korreksie, besef sy dan. Ek verlaat ‘n land, die een waar ek gesoog is, grootgeword en mens geword het, die verlaat ek, want die land het mý verlaat. Die plek wat ek geken het, bestaan nie meer nie. En miskien het ek hom nie regtig geken nie, net die wit bevoorregte deel van hom, nie die harde ongenaakbare Afrika-werklikheid nie.

Gelofteland, bedoelde land, geknelde land, verlaat ek vir promised land, dink sy. Daar waar ek voel ek groei en gedy, daar waar ek reeds nuwe wortels ingeslaan het.

Hul vlug word aangekondig. Mart gaan staan saam met die honderde ander passasiers in die ry na die vlugdeurgang. Haar oë dwaal oor die menigte vreemde gesigte.

Skielik verlang sy huis toe, Auckland toe, na haar gesin. Daar waar haar mense is. Sy kan nie vinnig genoeg daar kom nie. Sy druk die kameelperd stywer vas.

Mense verhuis al eeue lank oor grense heen: Ellis Island, Botany Bay, Kaap die Goeie Hoop. En lank voor dit ook, dink Mart. En neem met hulle saam hul kennis, taal, gewoontes, smake en geure, om hul merk te gaan laat op hul nuwe aanneemland. Of dié nuwe moederland se boesem altyd so warm is, is te betwyfel, maar sy maak darem gewoonlik met verdrag plek vir die menigtes nadat sy hulle so ietwat gelouter het.

Survivors, dis wat ons is, dink Mart, dié van ons wat opdrifsels op die oewers van ander kontinente geword het, met al ons vratte en skaafplekke, maar ook met ‘n nuwe veerkrag van die voet om die eise van die nuwe land die hoof te bied.

En eise is daar talle – kry ‘n werk, kry ‘n blyplek, kry wiele, kry ‘n skool, kry kos, kry, kry, krý. Kry uiteintlik ‘n nuwe pad, want daar is nie meer ‘n oue nie. Leer hoe werk dit by die werk, die skool, die koopplekke, die polisie, die council, die bank.

En leer om verder te kyk as ‘n suburbia-bestaan. Om die nuwe vryheid en die ekstra kopruimte te gebruik, want dit is in die eerste plek hoekom jy gekom het. Besef dat jy die voorreg het van twee kontinente se insig en dat niks, níks jou denke inperk nie, behalwe jyself.

Dis met opgewondenheid dat Mart die vliegtuig binnegaan, die lugwaardin wat haar kaartjie inspekteer vriendelik groet en afstap in die gangetjie na haar sitplek. Ek gaan huis toe! dink sy.

Mart kry haar sit, maak haarself gemaklik, en sit haar sitplekgordel aan. Sy maak haar tydskrif op haar skoot oop, kyk op as die kajuitbemanning die deur sluit, en voel die opwinding in haar maag as die vliegtuig op die aanloopbaan begin beweeg.

Sy kyk deur die venster hoe die wêreld vinniger en vinniger verbygaan, en dan hoe Afrika al verder en verder onder haar voete wegval.

En Mart weet dat sy nooit weer sal terugkeer nie. Haar lewe is 'n ander plek.

детектор лжи в москвеФільчаков прокурор