Longpes in Oos-Tibet

15:39:41 Sjina se staatsmedia sê twee mense in Oos-Tibet is aan die dodelikste en seldsaamste plaagvorm dood. Die gesondheidsdepartement van die Himalaja-streek is Vrydag daarvan verwittig dat twee mense aan 'n onbekende siekte in 'n dorpie in die Linzhi-gebied dood is.

Gesondheidsowerhede het die slagoffers ondersoek en bevind dat hulle aan longpes dood is. Die verslag van die ondersoek het nie die oorledenes geïdentifiseer nie maar gesondheidsowerhede in Hong Kong sê hulle was 'n getroude paar wat in September simptome van die siekte ontwikkel het. 'n Woordvoerder van Hong Kong se Sentrum vir Gesondheidsbeskerming sê die 35-jarige man is op 20 September dood. Sy 38-jarige vrou is vyf dae later dood.  

Die sentrum sê longpes wat deur besmette diere  – hoofsaaklik knaagdiere – aan mense oorgedra word, is hoogs aansteeklik. Dit kan tussen mense versprei word deur asemhalingsdruppels van 'n geïnfekteerde persoon in te asem. Die inkubasieperiode  van die siekte is tussen een en vier dae. Dit kan deur vinnige antibiotiese behandeling binne 24 uur ná infeksie behandel word.

Pubu Zhuoma, hoof van Tibet se gesondheidsdepartement, sê gevalle van mensplae het in die verlede in Tibet voorgekom. Hy sê siekte voorkomingsbeamptes is lank reeds besig om plaagvoorkoming en –beheer in siektegebiede uit te voer. Hulle het goeie resultate behaal in die beheer van epidemies onder diere en daar was geen epidemies onder mense nie. Volgens die verslag het die owerhede onmiddellik voorkomende en beheermaatreels in die dorpie ingestel. Geen nuwe gevalle van die siekte is aangemeld nie en die siekte is onder bedwang gehou.

 

оборудованиелобановский александр интервью