Die leier van die EFF, Julius Malema het by Mooiplaas in Pretoria aan sy ondersteuners gesê dat geen wetstoepasser hom sal keer om parlement toe te gaan nie.
Malema is vroeër in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria voorlopig gesekwestreer.
Indien dit ‘n bevel van die hof gemaak word, sal Malema nie toegelaat word om in die parlement te dien nie. Malema skuld meer as R16 miljoen aan die Ontvanger van Inkomste.
Sy ondersteuners sê dis deel van ‘n komplot om van hom ontslae te raak voor die verkiesing omdat hy so gewild is.
‘n Party-woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens word deur die ANC aangewend om hul leier die swye op te lê.
“SAID stem nie vir mense om na die parlement te gaan nie. Julle is dié [kiesers] wat mense stuur na die parlement as julle wil hê ons moet na die parlement gaan,” het Malema uitdagend gesê.
Die ANC is bekommerd oor Malema se waarskynlike sukses in die verkiesing op 7 Mei.
Malema het Maandag op Mooiplaas gesê enige persoon of party wat die sekwestrasiebevel teenstaan het tot 26 Mei om redes daarteen aan te voer.
Malema is die EFF se presidentskandidaat vir die verkiesing.
