Vraag nommer 9 op die jongste Amerikaanse sensusvorm het Latyns-Amerikaanse burgers aan die kopkrap.
Jessica Valenzuela, ‘n onderwyseres van Avondale, is maar een geval. “Ek weet nie wat om te antwoord nie,” sê sy.
Die vraag is aan watter ras die invullers van die huishouding behoort. Die keuses is wit, swart, Indiaans, Alaskaboorling, verskeie Asiese groepe, Hawaii-boorling, Suid-See eilander asook “‘n ander soort ras”.
Valenzuela, soos baie mense, weet nie mooi waar sy inpas nie.
“Heel duidelik is ek nie wit nie,” sê Valenzuela, 37. “Ek is Latyns-Amerikaans of Meksikaans, maar vir seker nie wit nie.”
Die sensus tel wel Latynse Amerikaners. In vraag 8 moet invullers aantoon of hulle “Latyns, Meksikaans of Spaans van oorsprong” is. Federale amptenare beskou glo Meksikaans as ‘n etniese kategorie eerder as ‘n ras.
Maar diegene wat “ja” antwoord in vraag 8, weet nie hoe om vraag 9 te benader nie.
Sensusraadgewer en sosiologie leerkrag aan die Universiteit van Californië-Riverside, Prof. Swanson sê die kwessie is al lank reeds ‘n probleem.
“In 1930 se sensus het Meksikane hulleself as ‘n afsonderlike ras beskou,” sê Swanson. In die 2000-sensus het 48% van Meksikane hulleself as wit verklaar terwyl 42% gedink het hulle behoort aan “‘n ander soort ras”
Latynse en Meksikaanse inwoners beskou hulleself toenemend egter as slegs Latyns-Amerikaans. ‘n Uitsondering is diegene wat as “Chicano’s” wil bekendstaan.
Dikwels neem Latynse Amerikaners die Sensuskantoor kwalik omdat hulle nie tussen bruin en wit onderskei nie. Hulle wil baie gevalle liewer bruin wees en identifiseer nie met wit nie.
