Die gehate onteieningswet kan dalk nie in sy geheel vervang word nie. Dié wet is verlede jaar weens erge teenkanting kort voor die verkiesing onttrek.
Volgens voorstelle wat in ’n Witskrif oor grondbeleid vir die ANC se omvattende Landelike ontwikkelingsprogram (CRDP) vervat is, is dieselfde onteieningsiening egter weer op die agenda.
Die ANC stel voor dat die howe ingevolge die nuwe grondbeleid die laaste sal sê hê oor die prys van eiendom wat onteien word, maar dat ander staatdepartemente ook oor ‘n mandaat sal beskik om by onderhandelinge betrokke te raak wat ‘n regsgeding oorbodig sal maak.
Een betrokke bepaling dat vergoeding geen wins vir die grondeienaar sal inhou nie, gaan waarskynlik groot ongelukkigheid in landboukringe veroorsaak.
Voorts sal waardasies om vergoeding te bepaal, die werk van die raad van grondsake by die departement van Openbare Werke wees.
Die konsepdokument maak voorsiening daarvoor dat eiendom in die openbare belang onteien mag word indien daar nie tot ’n vergelyk gekom kan word tussen die koper en verkoper nie.
