Die Vryheidsfront Plus het gesê dat die Tshwane-metroraad strenger moet optree teen onwettige grondbesetters naby Laudium wat teen hulle uitsetting betoog. Sommige huise van inwoners van Laudium is met petrolbomme bestook.
Grond wat deur PPC-sement besit word is onwettig beset en PPC het ‘n hofbevel in die Gautengse Hooggeregshof verkry dat die plakkershutte verwyder moet word. Die plakkers het geweier en word nou daarvan beskuldig dat nabygeleë huise in Laudium deur hulle geteiken word vir petrolbom-aanvalle.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, moet daar met ‘n ystervuis opgetree word wanneer betogers handuit ruk en inwoners aanval.
Die VF Plus het die ANC-beheerde metroraad daarvan beskuldig dat onwettige grondbesettings stil-stil toegelaat word en dat die metroraad eers optree wanneer besighede en inwoners deur ‘n langdradige en duur hofproses gegaan het om ‘n hofbevel te verkry.
Daar is talle areas in Pretoria waar die metroraad toegekyk het hoe onwettige grondbesetting en plakkerskampe in gevestigde woonbuurte ontstaan.
“’n Verantwoordelike stadsadministrasie wat vir sy inwoners omgee behoort onwettige grondbesetters te verwyder lank voordat dit in ‘n ernstige probleem ontaard”, het Beyers gesê.
