
Die Italiaanse atleet Devis Licciardi staar skorsing van twee jaar in die gesig nadat hy met ‘n vals penis tydens ‘n toets vir opkikkers betrap is.
Die 27-jarige is Saterdag by die Italiaanse kampioenskappe in Molfetta met dié kunsmatige orgaan gevang.
Licciardi is kort na die 10-km padwedloop tydens ‘n uriene-toets betrap.
Licciardi het vir die toetsbeampte gesê dat hy alleen wou wees tydens die toets maar die beampte het gesê hy moet by wees, want die regulasies stipuleer spesifiek dat die toets in die teenwoordigheid van ‘n beampte gedoen moet word.
Die vals orgaan, volgemaak met skoon uriene, is gekonfiskeer vir verdere ondersoek.
Die atleet het dit in sy onderklere verberg. – Sapa/AFP
