Krieket bekyk swak bywoning

Krieket Suid-Afrika, KSA, het IFM Sports Marketing Surveys South Africa aangestel om na die moontlike oorsake vir die swak bywoning van die Proteas se openingswedstryde teen Engeland te kyk.

16 600 toeskouers het die Wanderersstadion vir die eerste Twintig20-wedstryd volgesit, terwyl 7 934 toeskouers op SuperSport Park in Centurion kaartjies gekoop het.

Die uitvoerende hoof van KSA, Gerald Majola, het gesê hulle hou daarvan om van toeskouers te hoor.

“Die laaste opname wat onder toeskouers gedoen is, het regtig interessante insigte opgelewer wat ons toe opgevolg het. Mense het my gevra vir meer inligting en ons het ‘n platform op Facebook en Twitter geskep en dít het ons interaksie met ons aanhangers laat verbeter.”

Majola het gesê die Proteas verdien om voor ‘n groot skare te speel en het belowe dat KSA sy bes sal doen om Suid-Afrikaners 100% agter hulle span te kry.

Marc Jury, besturende direkteur van IFM, het gesê hul navorsing wat verskillende sportgedrag ontleed, toon dat “energie” en die “atmosfeer” van ‘n wedstryd in die stadion ‘n kritieke element is om ondersteuners te lok.

“Die regstreekse ondervinding het nie tred gehou met die gemak van die “TV-weergawe” nie dus verkies mense om in hul sitkamers eerder as in ry F te sit.”

Jury het gesê besluitnemers maak dikwels besluite wat op gevoel gebaseer is en luister nie na die ondersteuners nie.

“KSA is besig om pro-aktiewe stappe te neem om seker te maak spelers soos Smith, Pietersen, Strauss en die res van die spanne speel voor vol stadions die res van die somerseisoen.”

Die opname wat gedoen is, sluit onderhoude en aanlynnavorsing op KSA se webwerf in.

Navorsers was Vrydag by die OR Tambo Internasionale Lughawe asook Sondag se tweede eendagwedstryd by SuperSportpark om inligting in te samel. Die aanlynopname sal binnekort op KSA se webwerf te siene wees.

 

справка освобождениеДанильченко Харьков