In Oktober 2006 het die Serwiese regering egter ’n nuwe grondwet aanvaar waarin sy soewereiniteit oor Kosovo weer benadruk is. Ahtisaari se verslag wat op 26 Maart 2007 aan die Veiligheidsraad voorgelê sal word, sien geen toekoms vir Kosovo in Serwië nie.
Die verslag maak nietemin voorsiening vir die grootskaalse outonomie van die Serwiese minderheid. Die EU asook NAVO sal betrokke wees by die totstandkoming en oorsig oor die nuwe land en nuwe grondwet.
Ahtisaari het gewaarsku dat die dubbelsinnige statuur van Kosovo tot spanning en onstabiliteit kan lei en dat onafhanklikheid die enigste “realistiese” kans is om verhoudinge met Serwië te herstel en minderhede te beskerm. Hy voorsien daarenteen nie ’n noemenswaardige herstel van die ekonomie of demokratiese instellings nie.
Ahtisaari het ook in sy verslag, wat op 15 Maart aan die sekretaris-generaal Ban Ki-moen oorhandig is, beklemtoon dat die Serwiese minderheid se “voortslepende moeilike omstandighede” ’n rede tot diep kommer is.
Serwië, asook bondgenoot Rusland, bly hewig gekant teen enige vorm van onafhanklikheid omdat Serwië daardeur 15% van sy grondgebied sal moet afstaan. Dit is trouens waarskynlik waarom die VN-onderhandelaar nie eers op 2 Februarie 2007 melding gemaak het van “onafhanklikheid” in sy eerste voorlegging nie.
Vitali Tsjoerkin, Russiese ambassadeur, het die gespanne sessie op Maandag 19 Maart 2007 voor die einde verlaat. ’n Meerderheid stemme, nie net Rusland nie, bly onoortuig van die wenslikheid van Kosovaarse onafhanklikheid.
Tsjoerkin het Joachim Rücker, die VN-gesant in Pristina, daarvan beskuldig dat hy “onafhanklikheid preek”. Sy verslag is volgens die Rus eensydig met ’n vroom inslag en uiters onwelkom. Ahtisaari het na aanleiding daarvan reeds aangedui dat verdere onderhandelinge tussen Belgrado en Pristina op niks sal uitloop nie.
