Oxfam beweer dat die minimumstandaarde van humanitêre hulpverlening nie nagekom in die huidige kampe nie. Nugter weet wat Oxfam verwag. Die omvang van die taak is uiteraard enorm. Niemand weet hoeveel onwettiges hulself tans in die land bevind nie. Die ekonoom Mike Schussler skat dat daar tot tien miljoen onwettiges in die land kan wees.
Ongelukkig spesifiseer Oxfam nie wie hiervoor moet betaal nie. Wie moet sorg dat die onwettiges se menseregte nie vertrap word nie? Wie moet sorg dat hulle kinders skoolopleiding kan geniet? Wie sal tog sorg dat hulle paaie het om op te ry? Wel, ja, seker "die regering".
"Die regering" is egter 'n kodewoord vir die belastingbetaler – ek en u. Die bron van inkomste vir 'n regime wat groot kundigheid het slegs in die veld van die vernietiging van welvaart, is die gewone man en vrou op straat wat probeer kop bo water hou in die aangesig van astronomiese stygings in die prys van brandstof, voedsel en hoër rentekoerse. Dis u en ek wat moet pa staan vir miljoene onwettiges uit Afrika, omdat die enkele duisende lede van die ANC-regime wat in ballingskap was, namens ons almal 'n totaal misplaasde gevoel van verpligting teenoor die res van Afrika koester en alle grensbeheer in die praktyk afgeskaf het.
Hoe dink Oxfam gaan die toestande in die kampe verbeter? Sal blanke belastingbetalers vir elkeen van die 10 miljoen onwettiges 'n baksteenmeenthuis met 'n tuin gee, moontlik met 'n nuwe motor agter 'n elektriese garagedeur? Moet die regering volgens Oxfam moontlik die top marginale belastingkoers na 90% verhoog om hierdie malligheid te befonds?
Een ding is seker, ongeag waar Oxfam dink die geld vandaan sal kom: vir die voorreg dat buurlande voorheen afspringplekke gebied het aan terroriste, moet blanke belastingbetalers in ieder geval vandag opdok. Ek is seker die slagoffers van die Kerkstraatbom of die Ellisraslandmyn loop oor van intense dankbaarheid teenoor Mosambiek, Angola, Zimbabwe en Botswana.
Diegene wat 'n groot deel van die skuld moet dra vir die huidige situasie in Suider-Afrika, die voormalige koloniale moondhede, kom egter soos Pontius Pilatus skotvry daarvan af, en was eenvoudig hulle hande in kamma-onskuld. Organisasies soos Oxfam kan weliswaar hoogheilig sy hande wring oor die lot van die arme vlugteling, maar die inwoner van Downingstraat 10 kyk anderpad. Dit was nie bloot genoeg dat Brittanje Afrika geplunder het nie.
Nee, hulle moes ook in hulle politiek korrekte waansin die blanke Rhodesiërs teen wil en dank uitlewer aan die Mugabes van die lewe, met voorspelbare en rampspoedige gevolge vir veral die swart inwoners van Zimbabwe. Brittanje wou egter nie die waarskuwings hoor nie. Net solank daar 'n swart regering was, enige swart regering, kon die ander swartes met liefde krepeer en kon die land in duie stort. Watter Brit gee in ieder geval 'n snars om, terwyl hy op sy moddereiland 8000 km van Zimbabwe af sit en nie hoef te sien hoe sterf blote "wogs" en "darkies" van die honger nie? So ook het daar geweldige druk vanuit voormalige koloniale moondhede soos Nederland en Frankryk gekom, met die doel om Afrikaners te dwing om onsself aan die genade van die ANC oor te laat.
Skuld vir die toestroming van vlugtelinge uit veral Zimbabwe kan dus regstreeks voor die deur van die Britte en ander gelê word. Die vermetelheid van Oxfam om kapsie te maak teen die toestande in kampe vir onwettiges kan dus met minagting van die tafel gevee word. Daar is hoegenaamd geen rede hoekom Afrikaners verantwoordelikheid vir die lot van vlugtelinge op onsself moet neem nie. Ons had niks daarmee te make nie, en ons weier om "mea culpa" te sê oor iemand anders se probleme.
As Oxfam dan werklik so sterk voel oor die arme vlugtelinge, stel ek voor die organisasie gaan kyk in Gordon Brown se oë vir geldelike bystand.
