Dit volg nadat die DA se hoofsweep in die Tshwane-metroraad, dr. Derek Fleming, ‘n verklaring uitgereik het waarin die VF Plus hieroor aangeval word.
Tans is daar ‘n proses waarin die stadsraad oorweeg om 27 straatname, waaronder talle wat na Afrikanerfigure vernoem is, se name te verander.
Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, knip die DA nie ‘n oog wanneer Afrikanername vir verandering geteiken word nie, maar raak histeries wanneer hulle geliefde Britse Koloniale name ter sprake kom.
“Die DA het uit die Aksie Pretoria Straatname, waarvan AfriForum, Praag en die FAK ook deel is, gestap omdat hulle nie hul weg oopsien om vir Afrikanername te veg nie. In Kaapstad wou die DA talle Afrikaanse name verander totdat die VF Plus ‘n stokkie daarvoor gesteek het. Nou raak hulle histeries wanneer ons sê dat inheemse Afrikanername meer beskerming verdien as Britse Koloniale name”, het Beyers gesê.
Volgens Beyers sal die DA eerder wil sien dat Britse name soos bv. Milner, onder wie konsentrasiekampe tydens die Boere-oorlog opgerig is, en Victoria in die stad behou word terwyl name soos Pres. Paul Kruger en Andries Pretorius verwyder moet word.
Die VF Plus het gesê dat talle dorpe met Afrikaanse name verander het sonder dat die DA ‘n woord daaroor gerep het.
“DA-raadslede gebruik ook nie meer die naam Pretoria tydens raadsvergaderings nie – al wat oor hulle lippe kom is ‘City of Thwane ’. Dit is slegs die VF Plus wat die stryd voer om histories belangrike Afrikanername te behou.”
