Hy het Donderdag by die U.S. Institute of Peace kritiek gelewer oor die manier waarop die VSA die oorlog benader.
In 'n verslag wat opgestel is om die stand van die VSA en NAVO se betrokkenheid te ontleed, sê Kilcullen dit kan oor twee jaar duidelik raak of die VSA gaan misluk of nie.
"Ons gaan twee jaar veg en 'n suksesvolle oorgawe sien, of ons gaan twee jaar veg en dan verloor en huiswaarts keer," het hy gesê.
Die oorsig van Kilcullen kan tot verdere druk op Obama lei om nog troepe na Afghanistan te stuur, bykomend tot die groter aantal soldate, 21 000, waartoe reeds hierdie jaar ingestem is. Daar is tans 68 000 Amerikaanse soldate in Afghanistan.
Die Pentagon het reeds, soos die verslag aan die hand doen, weggedoen met die burokrasie en 'n nuwe, uiters veilige oorlogskamer opgerig waar 'n multidissiplinêre benadering geld.
Kilcullen sê die VSA het goeie redes om in Afghanistan te wees, maar om globale terrorisme te stuit is nie een van hulle nie. Die vernaamste rede om te bly is omdat die VSA belowe het om die mense daar te beskerm, om die toekoms van NAVO te verseker en om te verhoed dat Pakistan uiteindelik 'n kernmoondheid word.
Die adviseur het nagelaat om te noem dat die VSA tans presies Brittanje se koloniale strategie wat meer as 'n eeu oud is, in Afghanistan volg. Daarvolgens word die bedreiging steeds in Afghanistan as 'n globale een voorgestel en die gevaar van die Taliban oordryf.
Winston Churchill was die man wat destyds verantwoordelik was vir hierdie benadering. Dat die Taliban hoegenaamd nie met Al Kaida verbind kan word nie, het ook nie die VSA tot dusver gekeer om die stryd buite sy grense voor te stel as sou dit wêreldvrede bedreig nie.
Die Taliban volg, volgens Kilcullen, 'n klassieke insurgensiestrategie waar die swakker mag toeslaan en dan onttrek om direkte konfrontasie te vermy. Dit put die energie en reserwes van die VSA op die lang duur uit.
