Kanada se federale regering het Donderdag aangedui dat hulle die uitspraak van die Kanadese Immigrasieraad gaan betwis wat asiel aan 'n wit Suid-Afrikaner toegestaan het op grond van rassevervolging deur swartes.
Danielle Norris, woordvoerder vir die departement van burgerskap en immigrasie, sê regskenners is besig om die uitspraak te bestudeer en sal die uitspraak teenstaan in die Federale Hof.
Suid-Afrika het die Kanadese regering gevra om appèl aan te teken teen die besluit om Brandon Huntley as 'n vlugteling te aanvaar.
Huntley het aangevoer dat wittes deur swart kriminele geteiken word in Suid-Afrika uit weerwraak en dat die Suid-Afrikaanse regering niks doen om wit burgers te beskerm nie. Hy is self glo sewe keer aangeval.
Voorsitter van die Immigrasieraad William Davis, het gesê Huntley sal soos 'n "seer duim" uitstaan weens sy velkleur en bevind dat sy vrese vir vervolging geregverdig was op grond van die getuienis wat hy gvoorgelê het.
Die Immigrasie- en vlugtelingraad weier om kommentaar te lewer oor die uitspraak. Stephane Malepart, woordvoerder vir die raad, sê hy word verhoed om 'n mening te gee deur privaatheidsklousules.
Die raad is 'n onafhanklike tribunaal wat steeds binne bereik van die Kanadese regering opereer.
Norris sê 'n geregtelike oorsig deur die Federale Hof sal nie bykomende getuienis oor die feite van die saak wat handel oor die toestande in Suid-Afrika, aanhoor nie
Anesh Maistry, hoof van die politieke afdeling van die Suid-Afrikaanse hoëkommissaris in Kanada, sê die raad se besluit is verkeerd en weerspieël nie die werklikheid in Suid-Afrika nie. Die hoëkommissaris is 'n ambassade in Britse Gemenebeslande.
Maistry sê die raad het nooit Suid-Afrika se siening oor Huntley se beweringe gevra nie en het nie moeite gedoen om sy getuienis van herhaaldelike aanvalle te verifieer nie.
"Die besluit is verkeerd, dit is nie feitelik nie, dit verteenwoordig nie feite op die grond nie. Dit stel Suid-Afrika in 'n negatiewe lig en gee 'n wanvoorstelling van die werk wat die laaste 15 jaar gedoen is om 'n nie-rassige samelewing in die land te bou," het Maistry gesê.
Abraham Nkomo, Suid-Afrika se hoëkommissaris in Kanada, sê die vlugtelingraad is om die bos gelei in die saak en het bygevoeg dat dit 'n misdaadkwessie is en nie 'n rasaangeleentheid nie.
"Daar is nie vervolging teen die wit geeenskap in Suid-Afrika nie," het Nkomo aan die Kanadese uitsaaier CBC gesê. Hy het gesê misdaadteikens word gekies omdat hulle gerieflik is.
Nkomo het Kanadese amptenare ontmoet en sy verbasing oor Huntley se vlugtelingstatus teenoor hulle uitgespreek.
Deepak Obrai, Kanada se parlementêre sekretaris vir die minister van buitelandse sake en 'n konserwatiewe LUR in eerste minister Stephen Harper se regering, het sy ontsteltenis oor die raad se besluit in 'n verklaring te kenne gegee en gesê dit wys 'n ernstige gebrek aan oordeel.
"Om in Afrika groot te word en die vernietigende gevolge van apartheid te sien, in hierdie geval teen swartes en Indiërs, gaan dit my vertsand te bowe hoe 'n Kanadese instelling 'n besluit op grond van ras kan neem." Obrai is in Tanzanië gebore.
