
Die Kaapstadse Nooddienste het inwoners wat in die omgewing van die Koebergkernkragsentrale woon gemaan dat noodoefeninge gehou gaan word.
Inwoners is gewaarsku dat die kernkragsentrale se noodsirenes Woensdag getoets sal word.
‘n Woordvoerder, Wilfred Solomons-Johannes van die Nooddienste het ‘n beroep op inwoners gedoen om nie paniekerig te raak nie.
Die noodsirenes sal teen omstreeks 10-uur Woensdagoggend loei.
Solomons-Johannes sê die roetine-inspeksie is om te verseker dat alle sirenes in geval van ‘n kernramp in werkende orde is.
Hy het bygevoeg dat inwoners moet sorg dat hulle troeteldiere veilig is.
Noodsirenes kan moontlik Donderdag en Vrydag weer getoets word.
