
Media24 het pas aangekondig dat Jo-Ann Held as ’n direkteur van dié maatskappy aangestel is.
Volgens ‘n verklaring deur die maatskappy, is “Jo-Ann… ’n media-entrepreneur wat onder meer haar eie spitstyd-TV-program aanbied en vervaardig het. Sy het ook verskeie korporatiewe ondernemings en is ’n direkteur van Partnership Investments, ’n maatskappy met belange in media, mynbou en eiendom. Sy dien ook in die Wes-Kaapse Raad van Ubuntu Botho (deel van Sanlam) en die direksie van M&C Saatchi Abel, een van SA se voorste reklameagentskappe. Sy het ’n BCom (Regte)-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.”
Held is ’n voormalige Mej. Suid-Afrika, was ’n aanbieder van Pasella en is nog betrokke as aanbieder by Top Billing. Sy is ’n gewilde spreker oor verskillende onderwerpe soos geslagskwessies, die nuwe sakeomgewing en korporatiewe transformasie. Sy is aktief betrokke by verskeie liefdadigheidsinisiatiewe.
