Japan gee Kopenhagen inspuiting

Die sukkelende klimaatberaad in Denemarke het ‘n reuse-inspuiting van nagenoeg R162 miljard gekry.

‘n Groep van die wêreld se rykste lande het dié bedrag belowe as befondsing vir die stryd teen aardverwarming te midde van konflik tussen ryk en arm lande en grootskaalse protesoptrede by die beraad.

Japan, tesame met Australië, Brittanje, Frankryk, Noorweë en die VSA, het ooreengekom om ‘n fonds te stig om die verlies van die Aarde se woude te bekamp.

Die regerings van die ses lande het Woensdag in ‘n verklaring gesê hulle sal ‘n gesamentlike bedrag van R26 miljard tussen 2010 en 2012 bewillig. Die groep hoop om sodoende ‘n fonds te begin waardeur ryk lande sal help om die vernietiging van woude reg rondom die wêreld teen te werk.

Japan het die voortou geneem met ‘n belofte dat die land R145 miljard aan ontwikkelende lande sal skenk indien ‘n omvattende ooreenkoms tydens die beraad bereik word.

“Japan neem sy verantwoordelikheid teenoor die internasionale gemeenskap baie ernstig op,” het die land se omgewingsminister, Sakihito Ozawa, Woensdag gesê.

Dié land se aanbod is die grootste finansiële belofte wat tot nog toe by die beraad gemaak is.

Europa het verlede week R79 miljard bewillig vir ‘n fonds om ontwikkelende lande te help om klimaatsverandering teen te werk.

Die VSA het nog nie ‘n finansiële belofte gemaak nie. Dié land het egter gesê hy sal ‘n “regverdige bydrae” maak.

 

game of life online free playданильченко юрій броніславович