Jamestown se Duitsers

Jamestown word allerweë beskou as die eerste langdurige vesting wat die Britte in 1607 op die Amerikaanse kontinent kon bou en word jaarliks op 13 Mei gevier.  Maar dit was nie net Engelse wat onder die eerste koloniste was wat aan wal gegaan het nie. Onder die voorlopers was ook ander Europeërs.

Trouens, daar word tans bespiegel dat daar selfs vroeër as 1607 wit setlaars in Amerika aan wal gegaan het, maar dat hulle uitgewis is deur Indiane. Een so ‘n tese is die van Giles Milton wat in sy boek Big Chief Elizabeth skryf dat daar twee onsuksesvolle probeerslae was in 1585 en 1587 en dat latere reisjoernale melding maak van blonde Indiane met blou oë.

Britte is deur romantiese verhale van "edele barbare" deur die Virginia Company gelok om die seereis na Amerika aan te pak. Wat hulle egter by hul aankoms aangetref het, was nie wat hulle belowe is nie. Milton beweer dat die sukses van Jamestown te danke kon wees aan Indiane van gemengde afkoms – die vorige verdwene koloniste – wat die nuwe aankomelinge herken het as hul "vaders".

Nuwe navorsing dui daarop dat daar ten minste een Duitser onder die heel eerste suksesvolle groep in 1607 was, naamlik botanis en dokter Johannes Fleischer. Fleischer het ‘n brief in Latyn aan die aandeelhouers van die Virginia Company geskryf wat behoue gebly het en wat in die argeologiese versameling van Jamestown bewaar word.

Die brief dateer uit 1607 en die naam van die plek waarvandaan dit gepos is, word aangedui as "Jacobpolis" oftewel Jamestown in Latyn. Fleischer was, volgens alle aanduidings, die enigste van die 104 koloniste wat nie uit Engeland gekom het nie. Hy was uit Breslau, Duitsland en het in Basel, Switserland studeer. Die onontdekte plante- en dierewêreld asook die belofte van nuwe geneesmiddels was die rede vir sy reis.

Hy is hartseer genoeg nie lank daarna nie in 1608 oorlede. Sy grafsteeninskripsie is steeds vandag ‘n herinnering aan sy soeke om die natuur van die Nuwe Wêreld te verstaan. Kort na sy afsterwe, op 29 September 1608, kom nog drie Duitsers in Amerika aan.

Die Virginia Company het opdrag aan die drie glasmakers gegee om vir Londen se geboue vensters te vervaardig. Die toestand in die Fort was in Desember 1608 ongelukkig van so ‘n katastrofiese aard dat goewerneur John Smith besluit het om die Duitsers na stamhoof Powhatan te stuur om hom met die bou van sy huis te help in ruil vir onderdak.

Die Duitsers, verlig om van die nypende voedselskaarste in die Fort te ontsnap, besluit daarna om die Indiane voortaan teen invalle van die koloniste te help. Die glasaanleg ‘n entjie van die Fort af word dus nie net as werkswinkel gebruik nie, maar word ook vir wapensmokkelary aangewend.

Vandag is dit as lewende museum ingerig as ‘n vertoonvenster vir die glaswerk wat in 1619 daar geskep is en kan besoekers die ou tegnieke en gebruike gadeslaan. Smith was destyds op hoogte van die glasblasers se ander bedrywighede maar het nie ingemeng nie. Dit het die Indiaanse stamhoof agterdogtig gemaak en hy het die drie Duitsers begin wantrou. Al drie is deur die Indiane om die lewe gebring.

 

slots noпрокурор харьковской области