Drie mans is vir die onwettige besit van ivoor in Springs in hegtenis geneem, het die polisie gesê.
Kapt. Johannes Ramphora het gesê die mans, tussen die ouderdom van 30 en 35 jaar, is in die sentrale sakegebied van die stad vasgetrek.
“Hulle is deursoek toe hulle laat Sondagmiddag in ‘n Audi A4 onderweg was. Ons probeer nog vasstel of hulle met die ivoor wou handel dryf,” het Ramphora gesê.
Ramphora kon nie sê hoeveel die ivoor geweeg het óf die waarde daarvan bevestig nie.
“Ons wag nog op kenners om na ons terug te kom met die beramings,” het hy gesê.
Die drie mans, twee Suid-Afrikaners en Mosambieker, sal Dinsdag op aanklagte van die onwettige besit van ivoor in die landdroshof in Springs verskyn.
“Daar mag bykomende aanklagte vir die onwettige handel in ivoor en moontlik wildstropery bygevoeg word, afhangende van wat uit ons ondersoek vorendag kom,” het Ramphora bygevoeg.
