Is SA banke nog veilig?

ImageDie Amerikaanse kredietkrisis het reeds $900 miljard se bystand van die Amerikaanse regering geëis. In rand is dit gelykstaande aan R7,2 triljoen rand; dis nou 72 gevolg deur elf nulle.

Nou is daar mense wat sê: dit kan nie hier gebeur nie. Ons deposante se geld is nog veilig by Standard, ABSA, Nedbank en Eerste Nasionaal. Sê wie? vra ek.

Ten eerste: Nedbank het oor die afgelope twintig jaar dit reggekry om twee keer bankrot te gaan. Dis nou sónder enige finansiële krisis wat vernuf en spoedige optrede deur die bestuur vereis het. Elke keer het Ou Mutual tot die bank se redding gekom en is die publiek enige verliese gespaar. Wat gebeur as Nedbank se aandeelhouer, Ou Mutual, net soos die Amerikaanse versekeringsreus AIG self in die moeilikheid raak?

Investec ondervind blykbaar probleme as gevolg van sy Londense kantoor se blootstelling aan die kredietafgeleides. Ons banke is nie sulke groot spelers in die internasionale afgeleides dat hulle groot geld verloor het in die huidige Amerikaanse krisis nie, maar ons huismark kan binnekort dieselfde paadjie as die Amerikaanse bewandel. Eerste Nasionaal het reeds begin om hier in Johannesburg huise terug te neem. As dié eiendomme op die mark kom, gaan die pryse in duie stort en al ons banke het geweldige blootstellings aan die huismark.

Volgens die Reserwebank se reëls hoef banke nie enige kapitaal te hou teen hul blootstelling aan residensiële eiendom nie! Slegs die 8%-reël van die BIS geld op hul totale bates. Indien die huismark net met twintig of dertig persent daal, gaan die banke se kapitaal waarskynlik uitgewis word, gegewe die reusebedrae wat die afgelope tyd aan ontwikkelaars en huiseienaars uitgeleen is, ook aan die swart middelklas wat in poste om politieke redes verkeer en nie omdat hulle 'n wesentlike produktiewe bydrae tot die ekonomie lewer nie.

Dan is daar SEB. Wat weet ons van die omvang daarvan? Dis nou die tientalle (waarskynlik honderde) SEB-transaksies wat deur die banke aanmekaar gesit is en waar begunstigde swartes aandele teen 'n afslag van maatskappye bekom het, met geld wat van die banke geleen is. Die sekuriteit hiervoor is die aandele. Wat gebeur as die onderliggende aandeelwaardes onderkant die uitstaande skuld daal? Word die lenings dan betaalbaar? Gaan al die ryk swartes met hul groot karre en huise en Hollywood-lewenstyl die skielike gate tussen lenings en batewaardes kan terugbetaal? Wie weet watter ooreenkomste daar by die honderde of duisende aangegaan is en waar die banke hulself met strafklousules en dergelike probeer beskerm het? 'n Groot aantal aandele mag dalk so op die mark kom en die pryse nog verder na benede druk.

Kortom, ek dink mens se geld is meer so veilig in 'n bank nie. Trevor Manuel het Saambou toegelaat om bankrot te speel. Moontlik sal hy Standard red, maar is hy in staat om die Groot Vier almal gelyk te red as dinge begin lelik lyk? Ek het persoonlik geen vertroue in die banke se bestuur nie. Hulle is mense wat reëls volg en verder gholf speel. Skielik is daar nie meer reëls nie.

Ek weet dit klink alles baie lelik, maar toe ek 'n handelaar in 'n bank was, is ek altyd vertel ek moet kyk na die sogenaamde "worst case scenario".

Die VSA het so pas $900 miljard uitgegee om sekere van sy finansiële instellings te red of net "ordelik te laat ontbind", waaronder $85 miljard net vir AIG. Dít alles is nog nie die "worst case scenario" nie, want soos die voormalige Amerikaanse sentrale bankier Alan Greenspan (allermins iemand wat onder dié omstandighede paniek wil saai) gesê het: "Dis nog lank nie verby nie."

In SA sit ons met 'n huisborrel en 'n SEB-borrel. Dink daaraan as al twee tegelyk moet bars, wat nie net moontlik nie, maar waarskynlik is, want die twee is aan mekaar gekoppel.

Albei borrels mag binne die volgende maande deur die internasionale gebeure en globale gebrek aan likiditeit geprik word. Ook gaan maatskappye personeel begin afdank en hulle gaan moet dink of hulle polities korrek wil bly met hordes onproduktiewe kwotapersoneel en of hulle wil oorleef. Ek vermoed hulle gaan wil oorleef, wat beteken dat heelwat sogenaamde swart diamante met hul hope skuld skielik werkloos gaan wees. Huise en motors gaan in hul tienduisende teruggeneem word en teen 'n appel en 'n ei op veilings aangebied word. Die banke gaan die pyn vat en as hulle verliese die 8-10% van hul bates (die somtotaal van 'n bank se kapitaal) oorskry, is hulle onderdeur. Dan sal Trevor besluit, soos in die geval van Saambou, watter bank vir hom die moeite werd is om te laat oorleef en watter nie.

Wat sê hulle? Eerder bang Jan as dooie Jan. My raad aan die publiek sou die volgende wees:

1. Raak onstlae van aandele. Gebruik enige opwaartse daaldekkingslopie in die aandelemark (die sogenaamde "dead cat bounce") om te verkoop.
2. Moet geen kontant, behalwe die nodigste, by 'n bank aanhou nie. Koop eerder korttermynskatkiswissels met 'n staatswaarborg. Die banke gaan voor die staat bankrot wees, want die staat kan belastings hef.
3. Koop goud aan, Krugerrande of enigiets anders wat 'n direkte blootstelling aan fisieke goud gee (ek meen ABSA het so 'n produk wat nie aan die bank self gekoppel is nie, maar waardeur mens 'n aandeel in fisieke goud bekom). Gister het goud die meeste nog in een dag gestyg. Onder $1000 per ons is goud myns insiens 'n winskoop. As daar nog 'n AIG uit die kas klim of een van die groot internasionale banke ineenstort, kan goud lag-lag $2000 of meer per fynons haal.
4. Doen dadelik aansoek om 'n deel van jou kontant oorsee te plaas, in euro, jen of verkieslik Switserse frank, ingeval die rand weens ons handelstekort gaan verswak. Trouens, SA het nou meer internasionale skuld as ooit en dit kan insgelyks die rand laat verswak terwyl daar internasionaal na die sogenaamde "veilige hawens" soos goud en die bewese harde geldeenhede soos die euro (waarin Duitsland en Nederland steeds 'n groot rol speel) en Switserse frank gevlug word.

Hierdie is een van daardie "swart swane" soos een beroemde finansiële handelaar dit genoem het; die onwaarskynlike wat nie veronderstel is om te gebeur nie, maar wat wel een keer in 'n honderd jaar gebeur.

Onthou: AIG was tot nou die dag deur Standard & Poor's en Moody's as AAA gegradeer, dieselfde kredietwaardigheid as die meeste Westerse regerings. Nou is dit tegnies bankrot. Ons banke, ook vanweë die sogenaamde "landrisiko", staan nie op hoër as A+ nie. Indien 'n AAA-instelling in die huidige omstandighede kan vou, waarom nie ook ons veel swakker banke met hul toenemende blootstelling aan die meer riskante deel van die krediet- en huismark nie?

 

справка для спорталобановский супермаркет класс