Wiele van die sanksiebus val af

Ten spyte van sterk vermanings deur Barack Obama en Gordon Brown, is daar geen teken van enige konsensus deur die internasionale gemeenskap om bykomende sanksies teen Iran in te stel nie.

Iran het intussen voorbereidings getref teen moontlike sanksies deur diplomatieke afvaardigings na China, Sentraal-Asië en Venezuela te stuur. Hulle het ook gas en petrol opgegaar vir wintertekorte wat mag ontstaan.

Die opsie wat die VSA graag wil sien, naamlik ‘n verbod op geraffineerde petrol, lyk asof dit hoegenaamd nie van die grond gaan kom nie, aangesien China die tweede grootste ru-olie inkoper en Iran die tweede grootste ru-olie uitvoerder in die wêreld is.

Iran het verlede jaar in 10% van China se ru-oliebehoeftes voorsien en sy markaandeel sal na verwagting groei. China voorsien ‘n derde van Iran se geraffineerde olie.

China se Nasionale Petroleum Korporasie het vroeër vandeesjaar ‘n kontrak van $1,7 miljard met Iran se Nasionale Oliemaatskappy gesluit en volgens kenners beloop China se energiebelegging in Iran reeds $100 miljard.

China gaan dus nie stappe neem teen Iran wat hulle eie nasionale ekonomiese belang gaan skaad nie.

Turkye en Pakistan, Iran se bure, het ook aangedui dat hulle nie sanksies sal ondersteun nie. Van Irak kan geen ondersteuning vir sanksies teen Iran verwag word nie.

Die land het self sedert die 1990’s onder vernietegende VN-sanksies gebuk gegaan en buitendien voel die huidige Sjia-leierskap na aan Teheran.

Die VSA sal dus eerder kyk na druk op Westerse maatskappye wat finansiële, versekerings- en investeringsbelangstelling in Iran toon. Die voordeel daarvan sal wees dat Amerika nie die Veiligheidsraad se goedkeuring hoef te kry nie.

Robert Gates, die VSA se minister van buitelandse sake het aangedui dat daar nog lang lys opsies vir sy land bestaan wat die potensiaal het om Iran te laat afsien van hulle huidige beleid.

 

to playтопкарго