Die navorser se paspoort is gekonfiskeer en hy bly tans by sy Iranese vrou se familie in Teheran. Hy is ook gelas om nie die stad te verlaat nie. Tydens sy inhegtenisname was hy besig om ’n Soennitiese straatoptog te verfilm in die dorpie Chah Bahar. Dudoignon doen navorsing in Parys by die CNRS (Nasionale Raad vir Wetenskaplike Navorsing) oor Islam se godsdiensvertakkinge en skole.
Die suid-ooste van Iran, in die besonder die provinsie Sistan-Baloetsjistan, word as ’n sensitiewe gebied beskou. In die afgelope aantal maande is ’n paar gewapende aanvalle geregistreer asook ’n bomaanval op ’n bus wat rewolusionêre wagte moes vervoer en 11 lewens geëis het. Die gebied word ook oorspoel deur dwelmhandelaars in die nabyheid van Pakistan en Afghanistan.
Iran beskuldig Brittanje en die VSA daarvan dat hulle onrus in die gebied probeer aanstook. Dudoignon is die tweede Franse burger wat aangehou word nadat Stéphane Lherbier 15 maande gelede op ’n vissersboot in die Golf gevang is. Hy is eers in Februarie vrygelaat te midde van internasionale spanning wat VN-spertye oor Iran se kernprogram betref.
