Inwoners eis afslag oor vulliskrisis

Image

Conrad Beyers

Die Vryheidsfront Plus het gesê dat alle inwoners van Pretoria wat gedwing word om private vullisverwydering te doen vanweë die huidige vullisverwyderingskrisis, hul kostes van die stadsraad moet terugeis. 

Die VF Plus het verder gesê dat die metroraad 'n meganisme in plek moet stel waarvolgens inwoners wat verkies om op 'n permanente basis private vullisverwyderingsdienste te gebruik, vrygestel sal word van daardie kostes op hul munisipale rekeninge.

Pretoria se woonbuurte is in 'n vulliskrisis gedompel vanweë die voortslepende staking deur Samwu, en die ANC se onvermoë om die probleem op te los.

Verskeie inwoners en besighede het die VF Plus se raadslede gekontak en gesê dat hulle hul ekstra koste aan private vullisverwydering van die stadsraad gaan terugeis, en indien die raad dit nie betaal nie, sal sommiges regsaksie oorweeg.

Volgens mnr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, is dit die stadsraad se verantwoordelikheid om alternatiewe reëlings vir vullisverwydering te tref tydens die staking, maar hulle versuim om dit te doen.  Volgens Beyers is dit verstommend dat die ANC geen gebeurlikheidsplanne gereed het om die krisis te hanteer nie – veral in die lig daarvan dat presies dieselfde krisis verlede jaar plaasgevind het.

"Tans betaal inwoners en besighede dubbeld vir vullisverwydering – privaat asook op munisipale rekeninge – en daar is geen uitkoms vir hulle nie omdat die ANC die inwoners laat betaal, ongeag of die dienste gelewer word of nie.  Dit moet end kry en alle inwoners behoort hulle private vullisverwyderingsrekeninge amptelik van die raad terug te eis", het Beyers gesê.

Die VF Plus het gesê dat die party inwoners sal bystaan wat hieroor aksie, wat moontlike regsaksie kan insluit, teen die raad wil neem.

бензиновый генератор какой выбратьДанильченео