Die uitheemse indringer-vrugtevlieg het weer sy kop uitgesteek. Die Bactocera invadens het sy oorsprong in Sri Lanka.
Die plaag kom in ten minste vyf provinsies voor waaronder Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, Kwa Zulu-Natal en die Noord-Kaap.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het boere gewaarsku dat indien die plaag nie behoorlik beheer word nie dit tot produksie- en werkverliese kan lei.
Die vrugtevlieg het ‘n groot verskeidenheid gashere, dit beskadig nie net gewasse nie, maar kan ook ernstige uitvoer-implikasies vir die varsproduktebedrywe inhou.
Onder die gasheerplante tel kommersiële gewasse, soos mango’s, sitrus, koejawels, papajas en piesangs, wilde vrugte soos maroelas en wildevye asook groentes soos soetrissies, pampoene en tamaties.
Die vlieë lê eiers op vrugte wat beteken dat die vrugte sleg word.
Die departement het boere versoek om voorkomend op te tree om die plaag die hoof te bied.
In 2012 is verskeie waarnemings van dié indringer-vrugtevlieg gemaak in Limpopo en Mpumalanga. In die meeste van die gevalle is die pes suksesvol uitgeroei.
