Indië het ‘n ambisieuse projek van $2,5miljard aangepak om sy eerste ruimtevaarders teen 2015 die ruimte in te stuur, ‘n skuif wat beskou word as ‘n poging om by te bly by sy groter buurman, Sjina, in ‘n opkomende stryd om in die ruimte te wees.
Die Indiese Ruimte Navorsingsorganisasie (ISRO) het voorgestel dat twee mense in die ruimte geplaas moet word, 274 km bokant die aarde vir 7 dae – ‘n plan wat ondersteun word deur die land se top ekonomiese beleidmakers, die beplanningskommissie.
Die menslike ruimtevaart projek sal uit twee fases bestaan: ‘n onbemande eerste vlug wat beplan word vir 2013 of 2014 en ‘n bemande sending vir die volgende jaar. Die Indiese kabinet moet nog die plan goedkeur, maar ‘n woordvoerder vir ISRO het gesê die ondersteuning van die kommissie is ‘n “groot stap vorentoe.”
Indien die land sou slaag, sal dit net die vierde land wees na Amerika, Rusland en Sjina om ‘n mens die ruimte in te stuur.
Maar Indië is nie die enigste Asiese land in die nuwe ruimtekompetisie nie: Iran het onlangs aangekondig dat hulle ‘n bemande ruimtevlug gaan opstuur teen 2021.
Die Europeërs wat baie ryker is, het nie bemande ruimtevaartprogramme nie.
