Imperiale skemer

ImageDie Verenigde State van Amerika was, tot onlangs, ’n selfversekerde reus wat geglo het dat hy sy wil op die res van die wêreld sonder teestand kan afdwing.  Amerikaanse leiers het vas geglo aan Amerikaanse uitsonderlikheid – ’n byna Calvinistiese idee dat die VSA belas en verkose is om die wêreld se hoeder en leier te wees.  Beide die liberale en konserwatiewe Amerikaanse leierskap het internasionale beleid ontwikkel met Amerikaanse uitsonderlikheid in gedagte.  In dié opsig, het Amerikaanse leiers geglo, moet die VSA ’n regverdige en wyse leier en arbiter wees, wat ontwikkeling en maatskaplike vooruitgang elders ondersteun en wat aktief teen politieke ideologieë soos fascisme en kommunisme optree.

Daar is egter teen dié tyd tekens dat Amerikaanse uitsonderlikheid en selfversekerdheid besig is om uit te rafel.  Dit word veral duidelik geïllustreer deur die fiasko in Irak, waar Amerika vasgeval is in ’n oorlog waar dit al moeiliker word om ’n oorwinning te verbeel. ’n Voormalige Amerikaanse bevelvoerder, luitenant-generaal Sanchez noem die situasie daar ’n “nightmare with no end in sight”.  Hy blameer veral die politieke inmenging in die oorlog, asook swak beplanning en ontleding van die Midde-Ooste wat hopeloos naïef is.  Ander belangrike stemme wat gehoor word is dié van Generaal Odom (“[Iraq] is the greatest strategic disaster in American history”), kolonel Larry Wilkerson (voorheen ge-assosieer met generaal Colin Powel) wat skryf dat “[Iraq is a] blunder of historic proportions”, en die voormalige National Security Council-voorsitter Zbigniew Brzezinzki” (“[Iraq is a] historic, strategic and moral calamity”). Daar is verder gerugte oor diep verskille tussen raadgewers en politici in die Amerikaanse Senaat en Huis van Verteenwoordigers, asook in die Wit Huis, oor Irak en wat gedoen moet word.  Die argumente wissel van meningsverskil oor besondere gebeure tot kwessies wat strategiese posisies aangaan.

Die gemors in Irak het ’n krisis by Washington se elite ontketen wat selfs dieper as die Viëtnam-oorlog se gevolge strek.  Dit is merkwaardig dat dit presies die Viëtnam-oorlog is wat neo-konserwatiewe denke in Washington aangespoor het om in Irak betrokke te raak:  Sielkundig omdat dit Amerikaanse uitsonderlikheid sou herstel, en strategies om aan die res van die wêreld te bewys dat die Hegemoon in die enkelpoolwêreld ’n internasionale betrokkenheid sal handhaaf om avonturiers en ander ongure lande en leiers in toom te hou.  Die resultaat was net die teenoorgestelde. 

Die neo-konserwatiewe elemente het nou in onguns verval.  Die Washington-elite, wat eens deur die ideologie van Amerikaanse uitsonderlik meegesleur is, is ontsenu en ontnugter.  Hillary Clinton, wat dalk die volgende president gaan wees, kry massiewe ondersteuning uit die Amerikaanse middelklas wat terugverlang na minder gekompliseerde dae toe Bill Clinton se eskapades the belangrikste nuus was in ’n wêreld waar Amerika by verre die belangrikste land was.  Die Demokratiese Party in die VSA is in ’n baie moeilike posisie oor Irak.  In die laaste Huis- en Senaatsverkiesings is lede verkies op grond van verkiesingsbeloftes dat Amerika uit Irak gaan onttrek.  Ongemaklike vrae oor die verkiesingsbeloftes begin uit die Amerikaanse kieserskorps opklink, en as die volgende president ’n Demokraat is, gaan daar ’n kreet van protes wees as Amerika nie met ’n vinnige uitgangstrategie uit Irak vorendag kom nie.  Die probleem?  Om so te vertrek is om te erken dat die oorlog verlore is en dit sal Amerika se baie vyande aanvuur om haar weer en aanhoudend aan te val.

Die idees onderliggend aan Amerika se uitsonderlikheid en haar persepsie om ’n unieke historiese rol te speel, kan dalk na haar Protestantse oorsprong teruggevoer word.  Hoe dit ook al sy, tot met die Eerste Wêreldoorlog was Amerika taamlik self-geïsoleerd van die res van die wêreld.  Toetredes tot die Eerste en Tweede Wêreldoorloë het die skaal in beide oorloë in die guns van die Amerikaanse hegemoon se bondgenote geswaai.  Die toetredes was in beide gevalle ietwat onwillig.  Pearl Harbour in 1941 het Amerika finaal wakker gemaak, en die wêreld word sedertdien deur haar (kultureel en ekonomies) oorheers.

Dat Amerika ’n land met buitengewone potensiaal is, was reeds voor die Eerste Wêreldoorlog bekend, maar dit is veral die diepte van Amerikaanse mag soos dit byvoorbeeld in die Slag van Midway in 1942 gesien is (toe Amerika met die geweldige sterk Japannese vloot korte mette gemaak het), wat vriend en vyand diep beïndruk het.

Die Amerika van die 1940s was ’n uitsonderlike en beskeie reus.  Die land het nie net uit die Groot Depressie opgestaan nie, maar het ’n nywerheidspotensiaal sonder gelyke opgebou. Haar soldate (wat gelowige en eerlike mense was) het nie net met Duitsland afgereken nie, maar het die Sparta van die Twintigste Eeu (Japan) oortuigend afgeransel en op die punt gestaan om die ontmoontlike doen:  Om Japan in te val en te beset.  Dit is net verhoed deur Amerikaanse kernwapens, wat Japan finaal geknak het en daarna heeltemal in bedwang gebring het. 

Uit die Tweede Wêreldoorlog kom net die VSA ongedeerd, as ’n land waarin amper 50% van die wêreld se totale ekonomiese bedrywighede plaasvind.  Die persentasie het later afgeneem, maar tot met 1990 was soveel as 25% van die wêreld se ekonomie Amerikaans. 

In die 1950s was Amerika ’n land met ’n doel:  Veg die Koue Oorlog, konfronteer kommunisme, en versprei die demokratiese en kapitalistiese ideaal.  Viëtnam het daardie gemeenskaplike doel ondermyn, en die Amerika van die periode 1960 tot 2000 was ’n verdeelde land sonder gemeenskaplike doelwitte.  Diep verskille tussen die Tweede Wêreldoorlog-generasie en hulle kinders (Die Baby Boomers) het Amerika se normale persepsies oor haarself ondermyn. Ook die wye verspreiding van dwelms en veral linkse idees geskoei op ’n nihilistiese en dekadente lewensbeskouing, het Amerikaanse families ondermyn, godsdiens as ’n dissiplinerende faktor verwyder, en sosiale kapitaal laat afneem.  Die land het tog daarin geslaag om kommunisme hok te slaan – dalk omdat kommunisme ’n onhaalbare ideal en ideologie was wat self sy logiese ondergang bewerkstellig het.

Die onvermoë van Amerikaanse soldate om af te reken met Noord-Viëtnamese insypelaars, Sputnik, Yuri Gagarin, studente-onluste in 1968, asook die olieskok in 1970 het die Amerikaanse psige diep geskud.  Daar was ’n kort herstel van Amerikaanse hegemonie na 1980, tydens die periode wat die val van die Berlynse muur en Ronald Reagan se optimistiese jare in die Wit Huis insluit. Gedurende die 1990s het ’n dekadente Amerika onder Bill Clinton rondgeslinger in die waansinnige geloof dat Amerika onaantasbaar, onoorwinlik en die enigste supermoondheid is.  Die aanvalle in New York en in Washington in 2001 daag Amerikaners se persepsies oor hulleself uit, maar die diep verdelings onder Amerikaners oor religie, rassisme, seksisme en die rol van Amerika in die wêreld, veroorsaak dat die reaksie na 2001 van korte duur is.  Amerika kan nie ’n lang oorlog veg nie, wat dalk ’n kenmerk van etnies en religieuse diverse gemeenskappe verteenwoordig.

Irak het die diep krake in die Amerikaanse gemeenskap laat uitkristalliseer.  Dit het verder weereens bewys, soos in die geval van Brittanje en Rome, dat Imperiale Skemer dikwels duidelik word wanneer die Empaaier betrokke raak in oorloë buite sy onmiddellike invloedsfeer.  Amerika kan nie eers een middelmatige land met ’n kleinerige bevolking dissiplineer nie.  Om wêreldleier te wees, verg meer potensiaal as dit, en ander lande weet nou dat die Amerikaanse Tier se tande wel getrek kan word. Amerikaanse leiers, wat met moedersmelk die idee van uitsonderlikheid en ’n unieke rol in die geskiedenis vir Amerika ingekry het, is ontnugter en ontsteld.  Hierdie leiers, wat glo dat hulle op die hoogste piek van die Wêreld sou sit, om ’n dominante staat te regeer wat vryheid en vooruitgang na die res van die mensdom sou bring, vind uit dat die werklikheid dalk baie anders gaan ontwikkel.  Die internalisering deur Amerikaanse leiers van sosiale idees soos anti-rassisme en anti-seksisme, ekonomiese vooruitgang,  kapitalisme, en Amerika se leiersrol om die idees te bemoedig en te versprei, het skielik te staan gekom teen ’n baie meer primitiewe vorm van politiek:  Dié van verowering, verslawing, oorlogsbuit en kulturele en geloofsoorheersing.

Net soos Britse uitsonderlikheid in die 19de eeu uiteindelik deur die Boere gestuit is, en later in die Wêreldoorloë vernietig is, blyk dit dat Viëtnam en Irak Amerikaanse uitsonderlikheid uitgedaag het en dalk mag vernietig. Die resultaat in Irak is nog onbekend, maar dit het die tekortkominge in die idee van Amerikaanse uitsonderlikheid duidelik sigbaar gemaak. In dié opsig gaan dit die internasionale balans van mag en Amerikaanse gewilligheid om internasionaal betrokke te wees ernstig aantas.

Op 20 Januarie 1961 het ’n selfversekerde Amerikaner die Wêreld aangekyk en verklaar: “Let every nation know, whether it wishes us well or ill, that we shall pay any price, bear any burden, meet any hardship, support any friend, oppose any foe to assure the survival and the success of liberty.”  Amerikaanse uitsonderlikheid het hoogty gevier, en John F. Kennedy het in sy eerste toespraak as president Amerikaanse uitsonderlikheid sentraal in sy presidensie en politiek gemaak.

Na Viëtnam en die olieskokke in die 1970s, verklaar Ronald Reagan in 1980: “it is morning in America”.  Hy was verkeerd, dit is skemer, en die Amerikaanse oomblik het dalk minder as ’n eeu geduur.

Оборудование Данильченко Юрий Харьков