Immigrasie veroorsaak ons ondergang

Voortaan sal Dan Roodt weekliks ‘n internasionale rubriek van om en by 600 woorde skryf wat ook in Engels in die VSA en in Italiaans in Italië sal verskyn. Hierdie is die eerste aflewering.

ImageDie Italiaanse intellektueel, Umberto Eco, het enkele jare gelede iets kwytgeraak wat vir my skokkend was. In sy boekie Cinque Scritti skryf hy onder meer: “Die Derde Wêreld klop aan ons deure en gaan binnekom selfs al hou ons nie daavan nie… Europa gaan ʼn veelrassige kontinent word – of ʼn “gekleurde” een as u wil. Dis hoe dit gaan wees, of u daarvan hou of nie.”

Kennelik het mnr. Romano Prodi hom nie aan Eco se fatalisme gesteur nie, want tans lyk dit asof Italië die voortou in Europa gaan neem as dit by die summiere deportasie van ongewenste immigrante kom. Maar indien enigeen twyfel aan die verwoestende gevolge van onwettige immigrasie, hoef hy of sy maar net my land, Suid-Afrika, te besoek.

Na raming is daar tussen tien en vyftien miljoen onwettige immigrante uit die res van Afrika in Suid-Afrika. Dit verteenwoordig min of meer ʼn kwart van die bevolking! In sommige dele van die land, soos die Limpopo-provinsie, word tot tagtig persent van alle misdaad deur immigrante gepleeg. Nietemin het die president van Suid-Afrika, Thabo Mbeki, onlangs gesê dat sy regering “niks kan doen” om die immigrasievloedgolf, veral vanuit Zimbabwe, te stuit nie.

Suid-Afrika was eers ʼn Westerse land. Ons aandelebeurs is ouer as vele in Wes-Europa. Tot onlangs het ons meer spoorweë en paaie as Groot Brittanje gehad. Intussen het ons paaie egter vol gate geword en meer as die helfte van die spoorlyne werk nie meer nie. Dit is die gevolg van verafrikanisering, maar ook van onwettige immigrasie wat eenvoudig ons hele maatskaplike stelsel oorweldig het.

Eens was daar ʼn woonbuurt in Johannesburg by name Hillbrow wat as die “Manhattan van Afrika” bekend gestaan het. Dit was ʼn kosmopolitiese buurt waar mens vele Europese tale gehoor het. Ek kan onthou hoe ons as studente by die Café de Paris en die Café Wien ʼn drankie gaan drink het. Daar was ook boekwinkels en ʼn platewinkel bekend as Hillbrow Records wat ʼn groot afdeling vir klassieke musiek gehad het.

Vandag is Hillbrow ʼn misdaadgeteisterde slumgebied wat deur Nigeriese dwelmhandelaars beheer word. Van die 100 000 Nigeriërs in Suid-Afrika het slegs 3 000 wettige visums. Op enige straathoek kan mens, benewens heroïen, ʼn Suid-Afrikaanse ID-boekie vir die ekwivalent van 100 euro koop. Dikwels word sulke ID-boekies deur korrupte amptenare van Suid-Afrika se Binnelandse Sake-departement verkoop.

Woorde kan nie meer die toestande in Suid-Afrika beskryf nie. Elke dag in die pers lees ons van gister se vlaag moorde, verkragtings en rooftogte. Sommige rowers pleeg selfs misdaad in polisie-uniform. Trouens, soms as slagoffers van misdaad na die polisiestasie gaan om ʼn gewapende rooftog aan te meld, herken hulle hul aanvaller agter die toonbank in sy mooi blou uniform as ʼn regte polisieman…

Net enkele dae gelede skryf ʼn bekende Afrikaanse sanger, André Swiegers, hoe sy seun en dié se vriendin en haar ma deur die polisie gearresteer is omdat sy nie vinnig genoeg haar rybewys aan hulle getoon het nie. Natuurlik was die gearresteerde vrou blank en die polisiemanne swart of “gekleurd” soos Umberto Eco sou sê.

En dit is die wortel van die probleem: die rassebewussyn van ons swart-nasionalistiese president Mbeki veroorsaak dat hy nooit teen onwettige immigrante gaan optree nie, selfs al pleeg hulle die mees barbaarse dade teen vroue, kinders en oumense. Vir hom is ons, die wetsgehoorsame Westerlinge van Suid-Afrika, die vyand wat deur sy polisie geteister word, waarteen sy arsenaal van wette gerig is en wat bedoel is om ons uiteindelik landuit te verdryf. Blankes mag nie met die staat handel dryf of onafhanklik van swartes ʼn onderneming begin nie. Ons kinders mag ook nie aan die universiteite in die meer gesogte studierigtings studeer nie omdat sulke studierigtings vir swartes gereserveer word. Hulle moet ook ten duurste vir hul studies betaal terwyl swartes gratis mag studeer.

Die onreg wat daar vandag in Suid-Afrika heers, het ten minste gedeeltelik weens onwettige immigrasie ontstaan omdat soveel swart Afrikane van oorkant ons grense deur die ekonomiese voorspoed in ons Westerse land aangetrek is. Mag Italië ons lot gespaar bly en mag Umberto Eco se voorspelling nie bewaarheid word nie.

для дачиФільчаков прокурор