Wilddiewe in Sierra Leone het ‘n olifanttrop in die land se enigste natuurpark “uitgewis”, het dié park se bestuurders gesê, nadat die polisie ‘n groep van 10 wilddiewe vasgetrek het.
“Dit is moontlik dat al die oloifante in die park uitgewis is,” het Ibrahim Bangura, senior superintendent van die ministerie van landbou se eenheid vir die bewaring van wilde diere gesê.
Die ses olifante is geskiet en “primitief geslag”, hulle is met swaarde gekap en hul tande feitlik uit hul velle geruk,” het Bangura gesê.
Polisie het gesê 10 wildstropers is in hegtenis geneem ná die ontdekking van die olifant-karkasse én die van vier buffels in die Outamba Kilimni nasionale park, naby die grens met Guinee.
Die mans, van Sierra Leone en Guinee, word tans in die noordelike dorp van Koinadugu aangehou.
“Ons glo dié slagting het tussen September en Oktober plaasgevind en dit is ‘n groot skok vir ons almal,” het Bangura gesê.
Amptenare van die ministerie van toerisme het gesê ‘n militêre-eenheid is naby die natuurpark opgerig na gereelde strooptogte deur wilddiewe van Guinee en Mali.
