Hierdie proses hou ’n aantal gevare in, in sowel reële terme as in terme van die boodskap wat dié verwikkelinge aan die buiteland stuur. Wat die reële terme aanbetref, begin Suid-Afrika dieselfde neiging te toon as die res van Afrika. Waar opposisielede uitgeskakel of geneutraliseer word, en die kiesers bedrieg begin voel, begin woede opbou. Sonder ’n stewige opposisie en tekens van verandering neem die wanhoop onder baie mense toe. Waar griewe nie parlementêr verwoord kan word nie, word die weg gebaan vir staatsgrepe en militêre aksies, net soos elders in Afrika.
Wat die boodskap wat Suid-Afrika na die buiteland stuur aanbetref, word die indruk gewek dat die ANC “iets goeds doen”, dat hulle “gelyk gehad het” deur met moord en terreur aan die mag te kom. Dit maak die situasie van die gewone wetsgehoorsame burger hagliker en wanhopiger, juis omdat hulle nie gehoor word nie. Die Nederlandse departement van Buitelandse Sake meen dat alles koek en ei is in Suid-Afrika; ja, ’n bietjie gewelddadig, maar niks ernstigs nie. Die klug kan nouliks groter wees.
Die res van die wêreld is onder die indruk dat as ’n mens ’n volk ’n stembus gee, dan het demokrasie vir hulle aangebreek. Met gevare soos meerderheidstirannieë, totalitarisme, diktature, ensovoorts wat ook deur stembusse aan die mag gekom het, word nie juis veel aandag aan bestee nie. Om die waarheid te sê, word diegene wat die heilige stembus se geloofwaardigheid in twyfel trek dikwels as rassiste en wit supremasiste afgemaak, veral as die linkses se weddenskappe op die spel is.
Suid-Afrika is in baie gevalle ’n voorloper in die wêreld as dit kom by multikulturalisme, en baie lande kyk na hoe Suid-Afrika (lees: die ANC) polities te werk gaan om inspirasie te vind in hul eie integrasiebeleide. Suid-Afrika is daarom ook in staat om ’n redelik goeie antwoord te gee op distopiese doemprofete van weleer. Ek fokus nou spesifiek op George Orwell met Nineteen Eighty-Four en Aldous Huxley se Brave New World, wat die twee mees bekende doemscenario’s voorstel. In Orwell se roman word ’n futuristiese “utopie” voorgestel as ’n plek waar die staat volledig beheer oor ’n mens se totale wese het. Vrye gedagtes en seksualiteit is totaal aan bande gelê. Huxley se weergawe van “vreedsame saambestaan” vergestalt juis die teenoorgestelde: mense moet hul luste laat botvier, alle verantwoordelikhede verwerp en sodoende reduseer hulle hulself tot infantiliteit en kuddegedrag (lyk soos Nederland!).
In Nineteen Eighty-Four word met haat en vrees geregeer, en in Brave New World word gedrag wat by die kudde aansluit, beloon. In albei hierdie samelewings word ’n bepaalde klas mense tot die rand van die maatskappy uitgesonder om in armoede te leef, en hulle vorm die kontras vir die “verligte” utopiste. In beide samelewings word gepoog om romantiese liefde te elimineer, en die idee van ’n familie is ook nie gewens nie. In Nineteen Eighty-Four spreek Orwell sy vrees uit dat boeke verban sal word, en in Brave New World vrees Huxley dat boeke gewoonweg nie meer gelees sal word nie. Orwell vrees dat haat die mensdom se ondergang sal word en Huxley vrees dat liefde die mens se ondergang sal word.
’n Mens kan Suid-Afrika iewers in die middel van hierdie twee strominge plaas. Daar is elemente van albei aanwesig. Internasionaal staan Suid-Afrika bekend vir sy omgee en versoening, maar heelwat burgers weet beter. Vir meer as ’n dekade is die ANC besig om propaganda te maak teen die blankes, en die Naspers-stal publiseer slegs regimevriendelike nuusberigte, met so hier en daar ’n klein anti-ANC beriggie om die indruk te wek dat hulle nie bevooroordeeld is nie. Agter die ystergordyn was daar ook gebruik gemaak van “onafhanklike” bronne om die regime se standpunt en planne te beaam en goed te keur, en Helen Zille is tans besig om presies dieselfde te doen.
Deurdat ’n opposisieparty gebruik word om linkser gedagtes as die ANC te verkondig, is weereens ‘n propagandapunt vir die groot Stalinis Thabo Mbeki. Hiermee kan hy voorgee dat hy te “regs” was en dat die opposisie eintlik nog progressiewer is as hyself, waardeur die tweede fase van sy beoogde rewolusie ’n stap nader gekom het.
Hoe dit ook al sy, die ANC sal sy wil op die bevolking afdwing. ’n Sluwe taktiek wat gebruik word, is die twee-stappe-vorentoe-een-stap-terug metode. Sodra die ANC so onbeskroomd sy (voornaamlik blanke) volksgenote wil vervreem, neem hulle ’n stappie terug om die indruk te wek dat hulle wel blankes se belange op die hart dra. Later probeer hulle weer. Dis net ’n kwessie van geduldig wees. Op dié wyse lê hulle op ’n subtiele manier beslag op alles wat leef en beef in Suid-Afrika. Die linkse Engelse dien as ’n soort katalisator om die oppermag van Thabo te versterk.
Mevrou Zille, wat blykbaar ’n aanhangster van die Black Sash was in die jare toe linkse drome nog onskuldig was, hou haarself blind vir die werklikheid van oehoeroe en die doodgebore konsep van die Afrika-Renaissance. Sy hoef net noord van die Limpopo te kyk om te sien waarnatoe sy oppad is. Vir iemand wat onder Tony Leon gestaan het vir baie jare behoort sy tog te weet hoe korrup en magsdronk die ANC eintlik is.
Wat motiveer haar? Is dit ’n soort Stockholmsindroom dat sy haar gyselnemer begin bewonder? Is dit ’n eiesoortige taktiek om die Zuma-faksie van die ANC klein te kry? Ek weet nie hoe vergesog dit is nie, maar die kans bestaan dat haar Xhosaverheerliking ’n voortsetting van die Boer-Britstryd is met ander middele. Dit wil voorkom asof die Afrikaners begin om ’n alliansie met die Zoeloes te smee, soos belangrike Afrikaners se besoek aan Jacob Zuma ‘n paar dae gelede, en dat sy as teenreaksie kant kies vir die Xhosa’s, die stam wat die groot Engelse Marxiste se harte altyd warm laat klop het.
Miskien is dit haar bedoeling om die Afrikaners in haar party na links te bekeer of anders moet hulle maar vertrek en ’n ander party gaan soek… ’n opvatting wat die Engelse al eeue lank koester en waarvan selfs die sewentiende-eeuse filosoof John Locke melding gemaak het in sy Two Treatises of Government. Waar die “I am English” voorvegters destyds hulself superieur gestel het teenoor die res van die wêreld deurdat hulle geglo het dat die Engelse ’n beter ras was, of ’n beter geloof aangehang het, waan hulle hulself nou voorvegters vir die Marxistiese gelykheidsideaal, maar slegs as jy hul taal en gewoontes oorneem. Die vorm is effens anders, maar die inhoud is dieselfde. Hulle kan hulself nie van hul eie superioriteitswaan bevry nie.
Kom ons hoop dat Zille binnekort sal insien watter fout sy gemaak het deur haar partygenote te vervreem. Nie baie mense wil in haar dapper nuwe wêreld deel wat hongersnood, armoede en ellende in Afrika gebring het nie. Hoewel, hoe wrang die ironie ook mag wees, dit vul ’n mens tog met ’n tikkie leedvermaak om te sien hoe die Ingelse chauviniste besig is om hul eie ondergang te saai sonder dat hulle dit self insien.
’n Mens sou skaars kon glo dat Orwell en Huxley al twee ook Engels was.
