Swart dag vir Bult-aftree-oord

Dit was ‘n swart dag vir die Bult-aftreeoord in die Vrystaat nadat vyf bejaardes op slag dood is toe die bussie waarin hulle gery het, omgeslaan het.

Twee van die beseerde inwoners van die Bult-aftreeoord op Bultfontein, wat Donderdag in ‘n ongeluk beseer is, is steeds in ‘n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein.

Dit kom nadat Daphne Van Rensburg, Wynand Breytenbach, Cielie Seyffert en Elna Kotzé ernstig beseer is toe die minibus waarin hul gereis het omgeslaan het buite die dorp.

Hospitaalwoordvoerder, Amanda Appelgryn, sê die vier beseerdes het veelvuldige beserings opgedoen en word in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid behandel.

Die aftree-oord se bestuurder Gert Bezuidenhout het min woorde gehad om die tragedie wat die ouetehuis getref, te beskryf.

Hy het aan Bloemfontein Courant gesê daar is nie woorde om die groot verlies te beskryf nie. Hy het gesê almal by die aftreeoord is soos ‘n hegte gesin.

Lettie Muller, Daan Minnie, Dinie Aschar en Charlotte Lategan is op die toneel dood en Marie Ehlers later in die hospitaal.

Die bestuurder van die bussie, Hendrik Neethling, is in die Life-Rosepark Hospitaal, ook in die stad, behandel. Hy is egter reeds ontslaan.

Bezuidenhout sê die bussie was op pad terug van ‘n uitstappie naby Bloemfontein, toe ‘n bakkie glo probeer het om die bussie verby te steek. Die bakkie het egter weens ‘n aankomende vragmotor terug na sy baan beweeg en die bussie getref.

Die bussie het omgeslaan en in die veld beland.