Vlaag plaasmoorde en halssnoeraanvalle op Afrikaners duur voort

Die huidige vlaag plaasmoorde en halssnoeraanvalle op Afrikaners in Suid-Afrika voort.

Volgens berigte is ‘n 79-jarige Afrikanerman, Koos Jonker, gister naby Ellisras in ‘n plaasmoord gedood. Vyf swart mans het hom soos ‘n dier met baaltou vasgebind en toe herhaaldelik oor die kop geslaan.

Jonker was oorspronklik van Johannesburg maar het by vriende, die Pauers, op hul plaas gewoon waar hy deur hulle versorg is.

‘n Bende van vyf swartes het by die plaaswoning, ongeveer 300m van Jonker se kothuisie, ingebreek en met skootrekenaars en ‘n kamera weggekom. Die eienaar het eers die volgende oggend agtergekom dat daar ‘n inbraak was en het toe ook Jonker se lyk ontdek.

Jonker se dogter woon op Springs. Boere in die omgewing het gister na die vyf swart moordenaars gesoek.

Dit is die derde plaasaanval wat die afgelope maand in die provinsie plaasvind. Verlede week is Christine Robinson, 59, op die Rra Ditau-wildsplaas uitgewis en voor haar is Rudolph Pretorius, 54, op die plaas Bloempoort tussen Groblersdal en Dennilton in die gesig geskiet.

In ‘n ander voorval oos van Pretoria, is mnr. Ponty Thuynsma, 76, op ‘n kleinhoewe te Tweedracht in die Boschkop-omgewing deur vier gewapende swartes met ‘n strykyster gebrand voordat daar petrol oor hom uitgegooi is. Hy is egter wonderbaarlik nie aan die brand gesteek nie.

Vanweë sy veelvuldige beserings verkeer hy egter in ‘n ernstige toestand en word in die hoë­sorgeenheid van die Wilgers-hospitaal in Pretoria behandel.

Thuynsma se buurman, Carel Booysen, sê: “Ons het nog die aand vir hom gaan kuier, soos elke Sondagaand. Ons dink die boewe het by die agterdeur ingesluip terwyl Ponty ons afgesien het, want toe hy weer die huis in is, toe wag hulle vir hom.”

Booysen se seun Kobus het hom die volgende oggend ontdek waar hy die hele nag vasgebind en ernstig aangerand in sy slaapkamer gelê het.

Gemartel

‘n Woordvoerder van die Boschkop-polisiestasie, kapt Marissa van der Merwe, het verklaar dat die aanvallers Thuynsma oor die kop geslaan het en hom gemartel het deur sy bolyf en gesig met ‘n warm strykyster te brand.

Thuynsma se hond, ‘n boerboel, is so erg deur die swartes toegetakel dat haar rug gebreek is en die polisie haar van kant moes maak.

Daar is vier vuurwapens uit die kluis gesteel.

“Oom Ponty kon nog praat vanoggend, maar hy het baie seergekry,” sê Kobus Booysen. “Sy gesig is erg geswel soos hulle hom gebrand het en dit lyk of sy kaak gebreek is.”

Thuynsma woon alleen op die stuk grond sedert sy vrou in April oorlede is.