Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het Woensdag gesê om inligting bekend te maak oor ‘n militêre tribunaal se voorlopige ondersoek na die landing van ‘n privaatvliegtuig by die Waterkloof-lugmagbasis, is teen die wet.
“Ter navolging van die Wet op Militêre Dissipline, word die verrigtinge by ‘n voorlopige ondersoek in camera gehou,” het Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die SANW, in ‘n verklaring gesê.
“Diegene wat die verrigtinge in die media bespreek, moet hulle weerhou daarvan omdat dit ‘n oortreding van die wet is. Die SANW se militêre howe ag die kwessie as sub judice.”
Die afgelope naweek is berig dat sewe helikopters wat die Gupta-familie vervoer het, gemagtig is om vanaf die basis in Pilanesberg te vlieg om pres. Jacob Zuma te ontmoet.
Dít is glo vervat in die tribunaal se voorlopige ondersoekverslag.
Die tribunaal ondersoek vyf weermaglede in verband met die landing. – Sapa
