Sarkozy het hom voorts teen die 35-uurlange werksweek, wat deur die vorige sosialistiese regering ingestel is, uitgespreek. Dit het volgens hom niks gedoen om werkloosheid in die land te verminder nie. “Sy is steeds van mening dat jy werk moet uitdeel soos snye koek. Daar is nie een land in die wêreld wat hierdie logika aanvaar nie. Dit is ’n enorme fout,” het hy van sy teëstaander gesê.
Royal het teruggekap met ’n belofte om 500 000 poste vir jeugdiges te skep.
Waar Sarkozy sy teenkanting teen Turkye se toelating tot die Europese Unie uitgespreek het, het Royal gepleit dat ”die deur nie in Turkye se gesig toegeklap moet word nie.”
Sowat sewe miljoen kiesers het tydens die eerste verkiesingsrondte twee weke gelede vir die sentristiese kandidaat, François Bayrou, gestem. Gisteraand het beide Royal en Sarkozy na die stemme van hierdie kiesers gevry.
Royal het met tye aggressief voorgekom en verskeie kere haar teëstander in die rede geval, maar Sarkozy, wat bekend is vir sy arrogansie, het deurgaans kalm gebly.
Aan die einde van die amper drie-uurlange debat het Sarkozy belowe om die Franse kiesers “nie te verraai nie“ en om “nie vir hulle te lieg nie.“ Royal het afgesluit deur te onderneem om “in die diens van Frankryk te staan“ en verder ’n beroep op kiesers gedoen om die moed aan die dag te lê om vir ’n vrou te stem.
Volgens die jongste meningspeiling wat op 1 Mei deur die IPSOS-instituut vrygestel is, behoort Sarkozy Sondag 53.5% van die stemme te trek teenoor die 46.5% van Royal. Op dieselfde dag het Jean-Marie Le Pen van die Front National sy 3.8 miljoen kiesers aangeraai om nie vir Sarkozy te stem nie. Bayrou het hom nog nie uitgespreek vir enige van die twee oorblywende kandidate nie.
