’n Bakleiery tussen lede van die Gemeenskapseiendomvereniging, wat die eisers verteenwoordig, het tot dié besluit gelei. Die staat sal op 15 Maart fisies besit van die eiendom by die Lutherse kerk oorneem. Volgens Mokono moet die eisverifikasieproses ook nog gefinaliseer word en planne beraam word vir hoe die grond in die toekoms benut gaan word.
Die Lutherse kerk en die regering het vier jaar lank oor die prys van die 25 000 hektaar onderhandel, totdat minister Lulu Xingwana op 13 Februarie vanjaar besluit het die proses het lank genoeg geduur en dat die grond onteien sou word. Die plaas is uiteindelik vir R35.5 miljoen verkoop.
Ses plase in die noorde van die Mpumalanga-provinsie is volgende op die regering se lys van eiendomme wat onteien gaan word. Die regering se spertyd vir die afhandeling van bykans 7 000 grondeise verstrek aan die einde van volgende jaar. Teen 2014 moet 30% van landbougrond in die land in swart hande wees. Dit behels 26 miljoen hektaar grond waarvan 24,6 miljoen hektaar tans in wit besit is.
“Dit beteken ons kan nog 12 000 kommersiële boere verloor,” sê dr Chris Jordaan, bestuurder van eiendomsreg by TLU SA, aldus Rapport op 22 Maart.
