Groenland kry selfregering

Image

Nuuk

Die meeste mense ken Groenland as daardie yslike groot landmassa in die noorde langs Europa op Mercatorkaarte. Op sulke kaarte lyk Groenland so groot soos Afrika, maar dit is in der waarheid ongeveer 14 keer kleiner.

Daar woon 58 000 siele op die eiland en daar is slegs twee verkeersligte, al twee in die hoofstad.

Sondag is 'n nuwe era van selfregering aangekondig, wat uiteindelik sal lei tot die onafhanklikheid van die Groenlanders van Denemarke wat sedert 1721 oor die meesal geyste grondgebied regeer.

Die skuif wat Groenland verantwoordelikheid oor hulle strafregstelsel en olieontginning sal gee, is die resultaat van 'n referendum wat verlede jaar gehou is. Daarin het 76% van kiesers gesê hulle verkies selfregering.

Baie besluite dra 'n diep simboliese betekenis. Kalaallisut, 'n tradisionele Inuïettaal, is nou die land se amptelike taal en Groenlanders word tans deur die internasionale reg as 'n aparte volk van die Dene beskou.

Die regering van Groenland sal voortaan in Inuïet as Naalakkersuïsut bekend staan, vir die eerste maal in die geskiedenis. Kuupik Kleist, die charismatiese eerste minister, sê die verhouding tussen Groenland en Denemarke sal nou 'n gelyke een wees.

Voorheen, sê hy, was dit soos 'n huwelik waarin die vrou haar man met die koekroller rondgejaag het. Van vandag af, "het die man ewe veel sê as sy vrou in die huis".

Maar probleme is daar volop. Min Groenlanders sien ooit 'n universiteit en sosiale probleme soos alkoholmisbruik, werkloosheid en gesinsgeweld is algemeen. Daar is ook geen paaie nie en mense moet noodgedwonge gebruik maak van vliegtuie en bote om in die volgende dorp te kom.

Aardverwarming is daarbenewens besig om die yslaag wat 80% van Groenland beslaan te laat smelt. Alhoewel dit tradisionele jag, die hoofbron van voedsel, benadeel, maak dit die ontginning van enorme reserwes olie en minerale moontlik.

Die nuwe regering sal die helfte van die winste wat deur olie en minerale gelewer word, kry en die ander helfte sal na Denemarke gaan. Dit sal afgetrek word van die toelae van $637 miljoen wat Groenland jaarliks van Denemarke ontvang.

Twee verteenwoordigers van Noorweë se Samiparlement was ook Sondag by die vieringe en het die hoop uitgespreek dat die Sami ook so ver sal kan vorder.

Olafur Ragnar Grimsson, president van Ysland, het tydens die geleentheid verwys na sy land se onafhanklikwording van Denemarke in 1944. Bent Liisberg, verteenwoordiger uit Noorweë, het weer verwys na hoe sy land vir honderde jare lank eers deur die Dene en daarna die Swede oorheers is.

Nuuk, met 'n skilderagtige hawe, het 15 000 inwoners en hulle is elke oggend teen halfagt uit op straat wat blykbaar 'n yslike verkeersopeenhoping veroorsaak.

Hierdie tyd van die jaar sak die son skaars en bly dit byna heel dag lig. Die feesvieringe is dus in 'n pragtige lig gebaai, ook omdat dit die vorige dag gesneeu het.

Verteenwoordigers van 17 lande en gebiede wat die VSA insluit het die geleentheid bygewoon. Koningin Margrethe II van Denmarke was geklee in 'n tradisionele Inuïetkostuum met 'n kortbroek van robbepels en 'n kraletjalie.

Sy het die dokument wat Groenlanders se tweedeklastatus ophef, plegtig aan hulle verteenwoordigers oorhandig.

roulettes casino liveДанильченко Юрий прокурор