Engeland het die vyfde en laaste toets in die reeks met 197 lopies gewen. Hulle Suid-Afrikaans gebore kaptein, Andrew Strauss, het die loot op die eerste dag gewen en – natuurlik – gekies om te kolf. Hulle eerste beurt van 332 was nie die stoffasie van legendes nie maar het die Aussies se lamlendige 160 heeltemal oorskadu. Nog 'n Union Jack-ingekleurde Suid-Afrikaner, Jonathan Trott, het die slaanwerk in Engeland se tweede beurt gedoen en 119 van hulle 373 ingesamel. Dit het die Australiërs die taak gelos om meer as 500 lopies in twee dae aan te teken. Dit sou 'n nuwe wêreldrekord gewees het, iets wat nie buite die ruim van moontlikheid was in 'n seisoen van rekords nie. Maar daar is nie 'n Smith, Kallis, De Villiers of Duminy in die Ponting-weergawe van die draers van die sakkerige groen pet nie. Dit was net Hussey wat soos van ouds gekolf het en 121 lopies verkry het. Die ander kolwers het of saggies hulle paaltjies opgeoffer of is in fratsvoorvalle uit. Dis veral hulle hedendaagse voorste kolwer, Michael Clarke, wat op 'n bitter manier uit is toe hy die bal teen die enkel van 'n veldwerker vasgedryf het en hy met 'n uithardloop geskok is. Taai hande soos Brad Haddin en Mitchell Johnstone het konsentrasieblapse gehad en hulle paaltjies aan die Engelse geskenk.
Vir die Engelse, wat die afgelope paar dekades gruwelik onder die Australiese tirannie moes ly, was hierdie wraak gouestroopsoet. Maar terwyl hulle op die Ovaal se biljardtafelgroen veld gerinkink het, sou dit die Engelse betaam om te erken wie die nuwe kitaarslaner in toetskrieket is. En hulle sal moet erken dit is nie hulle nie. Die kroon bly steeds Suid, steeds by 'n span met groen en goud vir maatskappyklere, al is dit in 'n omgekeerde rangskikking. Suid-Afrika is nou amptelik en werklikwaar die voorste toetskrieketnasie ter wêreld. Mickey Arthur en Graeme Smith het 'n span sonder enige werklike swakhede gesmee, een wat weet wat dit is om te verloor en die gevoel verpes. Maar meer nog, dis 'n span wat weet hoe om te wen; iets wat hulle nie net skouspelagtig in Australië gedoen het nie, maar ook verlede jaar in Engeland.
Engeland het 'n ruggraat van verloopte Suid-Afrikaanse spelers in die trio van Strauss, Kevin Pietersen en die nuweling Trott. Maar Suid-Afrika het veel meer van hierdie straatvegters. Jacques Kallis bly die onbetwiste voorste allesdoenspeler in die wêreld en hy is 'n lid van 'n voororde wat enige boulaanval flou kan foeter. Aan die agterkant is die angel van Dale Steyn en Morné Morkel liederlik giftig en met Paul Harris wie se linkstollers besig is om met elke uitstappie te verbeter, kan die Proteas op twintig paaltjies per wedstryd staatmaak.
Engeland moet 'n bietjie sjampanje vir Smith en sy vrolike makkers bêre. Dit was Suid-Afrika wat Ponting se span gekneus en kwesbaar gemaak het.
Dit sal ons, terwyl ons verlig is dat die Australiese oorheersing vir eers verbreek is, wel betaam om die hoed te lig ter herinnering van een van die beste balspanne in die geskiedenis van georganiseerde sport. Knap gedaan, Aussies!
