As Eskom se voorstel van ’n tarief-verhoging van 45% elke jaar vir drie jaar aanvaar word, gaan Suid-Afrika die duurste krag op die planeet hê, sê die ekonoom mnr. Mike Schussler.
“Suid-Afrika se krag is reeds duurder as die VSA, Israel en Mexiko s’n en as Eskom sy verhogings kry, gaan Suid-Afrika se krag die duurste in die wêreld wees,” het hy gesê.
Suid-Afrika is reeds in die top tien uit 31 lande wat duur krag van huishoudings aanbetref.
“Daar word aanhoudend gesê ons het die goedkoopste krag in die wêreld, maar dit is nie die geval nie. Laat ons begin om uit te wys dat Eskom se pryse die hoogste in die wêreld is en die publiek se denkwyse begin verander,” het Schussler. gesê
Kragpryse het van 2005 tot op hede met 91% gestyg terwyl inflasie met 35% gestyg het.
Schussler sê kragpryse kan in die komende vyf jaar met 200% styg.
“Dit sal beteken tussen 2005 en 2014 sal krag in terme van die huidige voorstelle met 633% styg.
Hy wys ook uit dat inkomste van huishoudings en besighede uit krag nie net na Eskom gaan nie.
“Eskom het ’n netto inkomste van R53,6 miljard gehad in die jaar tot Maart 2009 terwyl stadsrade se bruto inkomste uit elektrisiteit sowat R32,9 miljard was in dieselfde periode.”
Dit is ’n totaal van R86,5 miljard of sowat 3,7% van BBP.
Die gemiddelde huishouding het in 2008 R365 per maand betaal terwyl Eskom se kliënte gemiddeld R124 per maand betaal het.
“Daar is nou meer as 12,3 miljoen krag-rekenings in Suid-Afrika. Daar is egter net 1,8 miljoen huislening-rekeninge in Suid-Afrika. Dit beteken die effek van ’n krag-verhoging word word 6,7 keer meer deur verbruikers gevoel.”
Schussler sê Suid-Afrika behoort goedkoper kragpryse te hê. Die land wek krag veral met steenkool op en het van die goedkoopste steenkoolbronne ter wêreld.
Eskom het egter nie sy kostes onder beheer nie en gee sy probleme deur na die verbruiker toe, sê Schussler.
Hy wys daarop dat Eskom se kostes in een jaar met 33,6% gestyg het.
“Geen lid van ’n vakbond in die land het daardie soort verhoging gekry nie. Beter regulasies en reguleerders is in die krag-omgewing nodig.
“Dit lyk of ons deur korttermyndenke regeer word.”
Hy sê ook hoër kragtariewe sal verbruikersinflasie laat styg en mynkostes kan met soveel as 25% styg.
“En onthou dat gasproduksie ’n insetkoste van 70% in terme van elektrisiteit het.”
Prysstygings van tot 20% kan verwag word in spoorvervoer, pypleidings en vries-geriewe.
“Suid-Afrika se groei sal met tussen 1,5% en 2% ingekort word.”
