Die Kanadese joernalis Naomi Klein het so twee jaar gelede ‘n boek gepubliseer genaamd “The Shock Doctrine: The Rise of Disaster Capitalism”, waarin sy geargumenteer het dat die grootmagte in die wêreld dikwels wag vir rampe om te gebeur sodat hulle die verskillende lande se ekonomieë of strukture kan heropbou en na hul hand kan skik. Sy stel dus dat rampe die deur oopmaak vir ‘n soort ekonomiese imperialisme.
In Suid-Afrika gebeur min of meer dieselfde, as ‘n mens die geskiedenis van die aanvang van die Anglo-Boereoorlog en anti-apartheidsbewegings op ekonomiese gebied ontleed. Egter dink ek ons kan Klein se boek vir Suid-Afrika aanpas onder die subtitel: “Die Opkoms van Rampkommunisme” in plaas van rampkapitalisme. Die rede hiervoor is as volg:
Apartheid het ondanks al sy kritiek en tekortkominge gesorg vir ‘n verhoogde stabiliteit en het geïnvesteer in die opkoms van ‘n swart middelklas. Ons wat albei tye meegemaak het – voor en na – kan getuig dat SA destyds heelwat stabieler en misdaadvry was as vandag. Die polisie was effektief en die basiese konsep van moraliteit was duidelik omlyn met relatief min grys gebiede.
Ervaring in die verlede het aangetoon dat middelklasburgers moelik mobiliseerbaar is vir protes. Die destydse Frankfurtskool Marxiste, wat wêreldwyd gepoog het om ‘n einde te maak aan Westerse kapitalisme, was gefrustreerd gewees met hul onvermoë om die middelklas voor hul wa te span. Die middelklas vorm die bousteen van ‘n kapitalisitese samelewing, en is ipso facto die grootste vyand van die antikapitaliste.
Vandaar het hulle uitgewyk na mense wat nie aan die middelklas-profiel voldoen nie, soos feministe, homoseksuele, diverse hippiegroeperinge en eksentriekelinge, wat selfs vandag oorverteenwoordig is aan sosiaalwetenskaplike fakulteite aan universiteite. Hulle bepaal van bo-af die maatskaplike klimaat met hul ‘progressiewe’ opvattings wat stadigaan die samelewing se waardestruktuur in hul guns bespeel. ‘n Voorbeeld hier is Obama se Public Allies-stigting wat multikulturaliteit wil bevorder en slypskole aanbied waarin hulle stel dat heteroseksuele gesinne ‘n negatiewe byproduk is van kapitalisitese, wit baasskap, en ‘n patriargale man-gedomineerde samelewing.
Nikita Khroestsjef het destyds aan Kennedy gesê dat Kennedy geen illusies moet hê oor die toestand van kommunisme nie: “Ons [kommuniste] sal julle [kapitaliste] bietjie vir bietjie sosialisme voer, sodat julle een oggend wakker word en vind dat julle in ‘n sosialistiese land woon.” Obama se beleid is ‘n sterk bevestiging van Khroestsjef se standpunt.
My vermoede is dat die ANC dieselfde taktiek toepas op ‘n minder verfynde manier. Die aantal swartes wat die ANC gesteun het was maar min tydens die NP se bewind. Oliver Tambo het tydens die Rivonia-verhore toegegee dat die ANC nog geen 1% steun geniet het onder swartes nie. In die tagtigerjare het hierdie steun uitgebrei tot ongeveer 5%, nog nie naastenby genoeg vir ‘n rewolusie nie. Enkele jare gelede het ‘n ondersoek van die Institute for Justice and Reconciliation aangetoon dat 39% van die gehele Suid-Afrikaanse bevolking meen dat apartheid ‘n goeie idee was. Overgezet zijnde is die kans vir protes te klein om te praat van ‘n rewolusie.
Die onwilligheid vir protes is nodeloos om te sê, ‘n doring in die vlees vir rewolusionêre. Die jonger generasie Suid-Afrikaners moet dus goed geïntoktrineer word met opvattings oor die slegte blanke bewind, die verlosser Mandela ens. ens. Kennelik het hulle by Noord-Korea geleer dat die tweede generasie na die rewolusie heelwat meer vatbaar is vir propaganda en linkse heldeverering as die generasie wat ervaring het van voor die tyd. Noord-Korea-kenner Bradley K. Martin het in sy uitstekende werk “Under the Loving care of the Fatherly Leader” gestel hoedat jonger Koreane heelwat meer onder die indruk is van Kim Il soeng se grootsheid as Kim se leeftydgenote. Hoe minder feitlike ervaring, hoe groter die mite.
Die huidige golf van anargie en armoede is ‘n manier om die land te destabiliseer en mense maklik oor te haal tot rewolusionêre optredens. Dit is juis onder sulke omstandighede waar kommuniste uitblink. Enkele jare gelede het daar ‘n koerantartikel verskyn waarin vermeld was dat in Ronnie Kasrils se kantoor ‘n plan ontdek was om die ANC omver te werp. Hiermee wou Kasrils ongetwyfeld ‘n kommunistiese hegemonie vestig in Suid-Afrika. Selfs Tim du Plessis het enkele weke gelede in sy rubriek vermeld dat sedert Zuma se aantrede sien hy orals rooi soos wat kommunisites-gesindes hul weg vind in topstrukture van die land se instellings.
Deur mense tot op die randjie van wanhoop te dryf kan die rooies hulself weldra voorgee as die groot verlossers, en sodoende ‘n soveelste poging aanwend om Sowjet sosialisme tot volle bloei te bring. En enige middel word deur die doel geheilig.
