Geweld in Rostock

Image

Betoger in Rostock

Gewelddadige botsings het Saterdag in Rostock plaasgevind, in afwagting van die G8-beraad wat eersdaags begin. Polisiemanne en anti-globaliseringsbetogers het slaags geraak.

’n Wye versameling van pasifiste, ekoloë, feministe, kerkgroepe en anargiste was deel van die 30 000 persone wat aan die betoging deelgeneem het. Die G8-beraad vind vanaf 6-8 Junie in Heiligendamm, sowat 25 km van Rostock, plaas, wanneer kanselier Angela Merkel die leiers van Brittanje, Frankryk, Rusland, Japan, Italië, Kanada en Frankryk verwelkom. Klimaatsveranderinge en armoede in Afrika is op die agenda.

Gister se betoging was die begin van die weeklange protes wat teen die beraad beplan word.

Die betoging se amptelike slagspreuk was “’n Ander wêreld is moontlik.“ Tydens die oproer het mense ook geskreeu: “Water is ’n mensereg!“, “Wêreldvrede nou!“ en “Stop privatisering!“ Sommige betogers het maskers van George Bush en Vladimir Poetin gedra. Ander was weer soos Middeleeuse konings aangetrek, om die diktatoriale aard van die G8-leiers te beklemtoon.

Image

Betogers gooi klippe na polisie in Rostock

Betogers het teen die einde van die betoging polisiemotors met verf, klippe en bottels bygekom. ’n Bank en ’n hotel waar die Amerikaanse afvaardiging later die week sal tuisgaan, is ook aangeval. Die polisie het toe met waterkanonne en traangas op die betogers losgebrand.

’n Heining van 12 km lank is rondom die dorpie Heiligendamm gespan en 16 000 polisiemanne sal hierdie week aan diens wees – die grootste veiligheidsoperasie in Duitsland sedert die Tweede Wêreldoorlog. Betogers dreig nou om die paaie na die dorp te blokkeer en afvaardigings sodoende te verhoed om by die beraad op te daag.

Volgens Silke Studzinsky, die regswoordvoerder van die betogers, is 20 mense reeds ernstig beseer en moes gehospitaliseer word. In hul geledere is daar talle Russe, Japannese, Franse, Swede en Spanjaarde. Volgens die polisie is tot ’n duisend mense, betogers en polisie tesaam, reeds beseer.

лазерный пескоструй ценаФільчаков прокурор